WITRIVIER – Flamboyant Skool se sewe nuwe gr. 1’s was vreeslik opgewonde om Woensdagoggend vir hul eerste dag by die skool aan te meld. Me. Elize Bester, een van die gr. 1-onderwysers vertel dat daar geen trane geloop het toe die ouers hulle afgelaai het nie.
Die spulletjie wou blykbaar net buite speel en het heerlik op die skool se klimraam rondgeklouter.
‘n Paar van die nuwelinge was verlede jaar reeds in die skool se gr. R-klasse en was dus vertroud met die skool en van die onderwysers.
Bester, wat ook ‘n departementshoof is, gee vir vyf van die kleingoed klas, terwyl me. Sanel Buitendach vir twee se onderrig verantwoordelik is. Bester sê die klein klasse sorg dat elke kind intensiewe onderrig ontvang.
