Skole se sukses verseker deur ouers wat hul sê sê
"'n Oneffektiewe beheerliggaam ontneem 'n skoolgemeenskap van bedingingsmag met die staat en selfs die breër gemeenskap."

MBOMBELA – Die verkiesing van skoolbeheerliggame begin 1 Maart landwyd.
Dit vind elke drie jaar plaas en is volgens die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas) die grootste verkiesing van openbare verteenwoordigers naas die nasionale, provinsiale en munisipale verkiesing.
Paul Colditz, uitvoerende hoof van Fedsas, sê ‘n skool se sukses word direk aan die vermoëns van die beheerliggaam gekoppel en hy het ‘n beroep op ouers gedoen om by dié proses betrokke te raak.
“Openbare skole behoort aan die gemeenskappe waarin die skole geleë is en hierdie skole word deur die betrokke beheerliggame beheer en bestuur.
“Die beheerliggaam het dus ‘n groot invloed op kinders se opvoeding en bepaal onder meer ‘n skool se etos en missiestelling, beleid oor toelating, taal en finansiële bestuur,” het Colditz gesê.
Volgens hom stel die verkiesing ouers in staat om ook ‘n sê te hê in wie op die liggaam moet dien, wat ingrypende besluite oor hul kinders se opvoeding neem en wat ‘n direkte invloed op die gehalte van opvoeding het wat hulle kinders kry.
Colditz sê dat hoewel onderwys in Suid-Afrika tans baie probleme in die gestig staar, ‘n hele paar daarvan verhoed en deur vaardige, kundige en toegewyde beheerliggame aangespreek kan word, maar bygevoeg dat ouers dan betrokke moet raak.
Fedsas wil dit benadruk dat die verantwoordelikheid nou op ouers rus om ‘n verskil te maak.
“Ouers móét stem om seker te maak dat die belange van hul kinders, maar ook die breër skoolgemeenskap gedien word.
“Hoe meer mense aan die verkiesing deelneem, hoe hoër is die gehalte van skoolbestuur.
“‘n Oneffektiewe beheerliggaam ontneem ‘n skoolgemeenskap van bedingingsmag met die staat en selfs die breër gemeenskap.”
Enige ouer wat ‘n kind van gr. R tot gr. 12 in ‘n openbare skool ingeskryf het, mag hom- of haarself verkiesbaar stel of stem in die verkiesing.
Navrae: www.fedsas.org.za
