GalleriesHard newsNewsNewsNews galleries

Venus ‘n Aspoestertjie met haar eie spesiale skoen

Die middelste gedeelte is baie sag, met basies niks om dit te beskerm nie. Ek moes dus iets prakseer wat die gewig van dié gedeelte sou vat en dit meer op die buitenste rand sou plaas. Dit werk amper soos 'n toiletring

MBOMBELA – Die hulp van ‘n plaaslike ortotis is ingeroep om ‘n renosterwesie by Care for Wild Africa te help. Mnr. Bradley Kidd het ‘n unieke skoen vir Venus – ‘n agtmaandoue renostervers – geprakseer sodat die wonde aan haar poot kan herstel.

Venus is in die sorg van me. Petronel Nieuwoudt geplaas, stigter van Care for Wild Africa, sedert sy wees in die Nasionale Krugerwildtuin (NKW) gevind is. Haar ma is deur stropers afgemaai en die kalfie is aan haar eie genade oorgelaat.

Sy het ‘n lelike abses aan haar regtervoorpoot en wonde aan die been gehad. Dr. Ferreira du Plessis, veearts by Mpumalanga Toerisme- en Parkeraad wat Venus ook behandel, vermoed dat die wonde deur dorings veroorsaak is.

Du Plessis behandel die kalf sedert Desember. Hy het haar telkens verdoof en die wonde skoongemaak. Hy het gips aangesit in ‘n poging om die sool te beskerm. “Venus is baie geduldig en het Petronel en haar span toegelaat om gereeld haar wonde te versorg. Ek het haar net nou en dan kom verdoof om haar vordering te monitor en die gips te vervang. Die wond aan haar been het goed gereageer en mooi begin herstel,” het Du Plessis gesê. Me. Amanda Wilde van Umsinsi Health Care het ook gehelp met die versorging.

Hulle het egter gevind dat die wond aan die sool stadig genees omdat dit al Venus se gewig moes dra. Kidd is toe genader en gevra om iets te bou wat die gewig van die poot sou afvat en langer as die gewone gips sou hou. “Sy is meer aktief noudat haar wonde genees en wei buite op die gras, so die gips loop vinnig deur,” het Du Plessis verduidelik.

Kidd het dadelik ingestem om te help. Hy het al baie vantevore kunsledemate en selfs bekke vir onder meer skilpaaie en voëls gebou. Hy het by navraag verduidelik dat ‘n renoster se poot soos ‘n klawerblaartjie lyk. Die buite rand van die sool bestaan uit ‘n dik gedeelte van ongeveer vier sentimeter. Dit is soortgelyk aan naels. “Die middelste gedeelte is baie sag, met basies niks om dit te beskerm nie. Ek moes dus iets prakseer wat die gewig van dié gedeelte sou vat en dit meer op die buitenste rand sou plaas. Dit werk amper soos ‘n toiletring.”

Hy het ‘n gipsafdruk van Venus se been en poot gemaak. Dit is met ‘n gipssaag verwyder en na die ortopediese afdeling by Mediclinic Nelspruit gevat. Hier het Kidd verder gewerskaf en ‘n tweede gipsafdruk gemaak wat hy met ortopediese materiaal van verskillende digthede opgevul het wat die gewig van die middel van haar poot sou lig.

Die kalfie is as’t ware Aspoertjie met dié spesiale skoen wat net vir háár pas. Nieuwoudt het gesê dat sy goed oor die weg kom met die skoen en dat die wond nou heelwat vinniger genees. Sy sal na verwagting die prostese vir nog sowat twee maande moet dra.

• Venus drink elke dag 16 liter Denkavit-formulemelk. Dit kos Nieuwoudt ‘n fortuin en sy het gevra dat diegene wat ‘n geldelike bydrae kan maak, asseblief ‘n inbetaling by Midfeeds maak.

Lees ook:

Hierdie bulletjie gaan nie sommer net lê nie

Hulp vir renostertjie na hiënas ore vreet

Orphaned rhino taken to rehab centre

Adorable new resident at rehabilitation centre

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button