Ouers kan so hulle invloed laat geld
"Die enigste verwysing hieroor in die Skolewet is dat ouers wat op die beheerliggaam dien nie finansieel vergoed mag word nie, behalwe vir uitgawes in hulle diens aan die skool aangegaan."

MBOMBELA – Die landswye verkeising van skoolbeheer-liggame skop eersdaags af en die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas) het ‘n beroep op ouers gedoen om hieraan deel te neem.
Verkiesings sal by 1 800 skole in Mpumalanga plaasvind.
Volgens Paul Colditz, uitvoerende hoof van Fedsas, word die sukses van ‘n skool direk gekoppel aan die vermoë van die beheerliggaam en daarom word ouers angemoedig om hierby betrokke te raak.
Volgens Colditz bestaan lede van die beheerliggaam van ‘n staatskool uit ouers van leerders by die skool; opvoeders by die skool; personeellede by die skool wat nie opvoeders is nie; leerders in die agtste graad of hoër by die skool; die hoof, in sy of haar amptelike hoedanigheid, en gekoöpteerde lede.
Die getal ouerlede moet egter een meer wees as die totaal van die ander stemgeregtigde lede van die beheerliggaam. Verder mag slegs ‘n ouerlid van ‘n beheerliggaam wat nié by die staatskool werk nie, as die voorsitter van die liggaam dien.
“Baie keer hoor mens die opmerking dat ouers wat dienste of produkte aan die skool verskaf nie op die beheerliggaam mag dien nie. Dit is onwaar. Die enigste verwysing hieroor in die Skolewet is dat ouers wat op die beheerliggaam dien nie finansieel vergoed mag word nie, behalwe vir uitgawes in hulle diens aan die skool aangegaan.”
Indien ‘n beheerliggaamlid wel besigheid met die skool doen, moet hy of sy verskoon word wanneer dié saak op die vergadering bespreek word, aangesien dit konflik van belange is, het Colditz gesê.
Volgens hom moet elke provinsie ‘n stel regulasies uitvaardig wat die verkiesings-prosedure behoorlik uiteensit. “Elke skool het ‘n kiesbeampte wat oor die hele proses toesig hou.”
Wat die ouerkomponent betref, kan ‘n ouer slegs deur ‘n ander ouer benoem en gesekondeer word. Benoemings geskied by wyse van ‘n nominasievorm wat deur die voorsteller, sekondant en kandidaat voltooi en aan die kiesbeampte oorhandig word. ‘n Benoemingsvergadering vind dan plaas waar verdere kandidate benoem kan word en al die kandidate aan al die ouers bekend gestel word. Die verkiesing vind óf net na die benoemingsvergadering óf in ‘n latere stadium in die vorm van ‘n voldagverkiesing plaas.
Die verkiesing geskied deur geheime stemming en die kiesbeampte moet die ouers oor die verkiesingsuitslag inlig.
Die verkiesing van skool-beheerliggame begin op Maart 1 landswyd.
You might also be interested in:
Skole se sukses verseker deur ouers wat hul sê sê
