Plaaslike skole gerat vir verkiesing
Hy meen die onderwysstelsel is onder geweldige druk en het gesê dat hierdie verkiesing waarskynlik van die laaste wesenlike geleenthede vir die samelewing is om die onderwysstelsel as’t ware ‘terug te neem’. "Om blaam rond te skuif, gaan niemand baat nie. Die onus rus op skoolgemeenskappe,” sê Deacon.
MBOMBELA – Ouers se betrokkenheid by vanjaar se skoolbeheerliggaamverkiesing sal waarskynlik bepaal of die Suid-Afrikaanse onderwysstelsel sal val of bly staan.
Só sê die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas), ’n vrywillige vereniging van skoolbeheerliggame van openbare skole wat op die behoud en bevordering van gehalte onderwys in skole geskoei is.
Alhoewel dit die enkele grootste demokratiese proses in Suid-Afrika volgens Fedsas is, het dié federasie hul kommer daaroor uitgespreek en gesê dit blyk egter dat die meeste provinsiale onderwysdepartemente nie die proses ernstig opneem nie, deur óf nie regulasies te publiseer nie óf dit so laat te publiseer dat dit meer verwarring skep as wat dit rigting gee.
Plaaslike skole is egter gerat vir die verkiesing en het ouers genooi om in die stemproses betrokke te raak om ‘n beheerliggaam daar te stel wat sterk leierskap sal openbaar en sodoende ‘n bepaalde beleidsraamwerk daar te stel. Volgens Hoërskool Nelspruit moet dié raamwerk met die nasionale en provinsiale riglyne in oorleg wees, waardeur die skool vir ‘n volgende termyn bestuur kan word.
Hoërskool Bergvlam sal hierdie jaar ook hul eerste voldagverkiesing vier nadat die Mpumalanga Onderwysdepartement hul aansoek onlangs toegestaan het.
Volgens me. Annemarié Kleynhans, hoof van Bergvlam, is die verskil tussen die ou bekende verkiesing en ‘n voldagverkiesing dat die nominasievergadering vooraf plaasvind waartydens nominasies gefinaliseer word. “‘n Volledige profiel van elke genomineerde kandidaat word daarna aan alle ouers beskikbaar gestel. Hierdie profiel sluit ‘n foto van die kandidaat in asook inligting ten opsigte van hy/sy se beroep, ervaring, vaardighede en die kandidaat se visie vir die skool oor die volgende drie jaar.” Volgens Kleynhans is hierdie profiele deur ‘n omsendbrief uitgegee, maar is ook op die skool se webwerf en op Communicator beskikbaar.
Die skool glo dat hierdie proses vaartbelyn is en heelwat meer ouers die geleentheid sal gee om hul stem te laat hoor.
Hoe vergelyk Mpumalanga met die ander provinsies?
Mpumalanga was slegs een van vier provinsies wat wel regulasies met betrekking tot dié proses gepubliseer het, sê dr. Jaco Deacon, adjunkhoof van Fedsas. Deacon het sy kommer hieroor uitgespreek en gesê dit is veral die Oos-Kaap wat ‘n kopseer is en bygevoeg dat indien dringende optrede nie plaasvind nie, ‘n hele generasie kinders se toekoms vernietig sal wees.
“Die Oos-Kaapse onderwysdepartement het finaal in duie gestort en die departement het nie die kapasiteit om enige funksie uit te voer nie. Pogings deur die nasionale Departement van Basiese Onderwys om die Oos-Kaapse departement onder administrasie te plaas, het die saak net vererger.”
Deacon het onkunde as ‘n rede vir dié probleem verwerp en erken dat politiek wel ‘n faktor is.
“Fedsas is elke keer betrokke by die proses, gee ná elke verkiesing terugvoering oor probleme, is deel van ’n nasionale taakspan en nasionale riglyne word gereeld uitgestuur. Onkunde is dus nie ’n verskoning nie. Provinsies weet al vir 19 jaar lank dat daar elke drie jaar ’n skoolbeheerliggaamverkiesing is. Dit is dus eerder ’n geval van laksheid. In Gauteng was die provinsiale onderwysdepartement só gefokus daarop om die sogenaamde ‘twinning’ of samewerking tussen 20 skole deel van die regulasies te maak dat die departement van die ander 2 050 skole in die provinsie vergeet het. Dit is ’n sprekende voorbeeld van politiek wat bó die belange van kinders gestel word,” sê Deacon.
Fedsas het ‘n dringende beroep op skoolgemeenskappe gedoen om erns met die verkiesing toe te lê en gevra dat mense in groot getalle moet gaan stem. “Deur kundige mense tot skoolbeheerliggame te verkies, belê ouers en voogde in kinders se toekoms. Mense met kennis en vaardighede wat tot ’n skool se voordeel kan strek, word versoek om hulle as kandidate beskikbaar te stel,” sê Deacon.
Hy meen die onderwysstelsel is onder geweldige druk en het gesê dat hierdie verkiesing waarskynlik van die laaste wesenlike geleenthede vir die samelewing is om die onderwysstelsel as’t ware ‘terug te neem’. “Om blaam rond te skuif, gaan niemand baat nie. Die onus rus op skoolgemeenskappe,” sê Deacon.
Fedsas het ‘n verskeidenheid dokumente op hul webtuiste, www.fedsas.org.za, beskikbaar wat op die verkiesing betrekking het.
Dit skop die week af en volgens Fedsas sal sowat 300 000 verteenwoordigers vanjaar verkies word.
Hoërskool Nelspruit-verkiesingsproses
Die verkiesing vind Woensdag 11 Maart in die skoolsaal plaas. Verkiesingregulasies bepaal dat 15 persent van die ouers wat op die skool se stemregister verskyn, teenwoordig moet wees.
Die term “ouer” word deur die Mpumalanga Departement van Onderwys, soos volg gedefinieer:
a) Die biologiese of aanneem-ouer of wettige voog van ‘n leerder;
b) Die persoon met wettige aanspraak op sorg vir ‘n leerder; of
c) Die persoon wat onderneem om die verpligtinge van ‘n persoon in paragrawe (a) en (b) ten opsigte van die leerder se opvoeding op skool na te kom.
Indien daar nie ‘n kworum by die eerste vergadering teenwoordig is nie, sal die verkiesing op die tweede geskeduleerde datum, Dinsdag 17 Maart om 18:00 in Hoërskool Nelspruit se skoolsaal plaasvind.
Beheerliggame word verkies vir ‘n termyn van drie jaar (Maart 2015 tot Maart 2018).
Hoërskool Bergvlam
Die verkiesing vind Maandag 9 Maart in die skoolsaal plaas wat as stemlokaal ingerig sal word.
Op verkiesingsdag is die stemlokaal vir 12 ure van 06:30 tot 18:30 oop.
Ouers kan op pad werk toe kom stem, wanneer hulle hul kinders kom oplaai, deur die loop van die dag en net na werk. Wanneer die stemlokaal amptelik sluit, begin die gekontroleerde telproses. Enige ouer kan die telproses bywoon, asook al die genomineerde kandidate. Sodra hierdie proses afgehandel is, die kiesbeampte die proses vry en regverdig verklaar het, word die nuwe beheerliggaam vir die volgende drie jaar bekendgemaak.
You might also be interested in:
Skole se sukses verseker deur ouers wat hul sê sê
