Die hare waai vir KANSA
Barberton het amper meer skenkings as Mbombela ingevorder.
MBOMBELA – Die hare het omtrent by dié Saterdag se KANSA Shavathon gewaai.
Altesaam R30 000 is in Mbombela alleen by verskeie Shavathons deur mense wat skenkings gegee het om hul hare te laat skeer of verf, vir kankernavorsing ingesamel.
Marlin’s Pub en Nelspruit Aero Club by die ou lughawe is onder die plekke wat die kopskeersessies aangebied het.
Behalwe vir een vrou, het omtrent net mans die knipper aangedurf.
Die meeste vroue het kleure en partone op hul hare laat verf, maar Jackie Strydom het die skoner geslag trots gemaak toe sy die nommer 2-lem ten bate van kankernavorsing aangedurf het.
Casey Schaefer, bestuurder by Marlin’s, sê hul fondsinsameling was baie suksesvol en groot pret.
“Ons het omtrent 48 koppe geskeer en geverf. Ons het ‘n minimum van R2 400 ingesamel, maar mense het ook geld geskenk, so ons het altesaam R3 000 ingevorder.”
Marlin’s het 10 bottels spuitverf opgebruik.
Nelspruit Aero Club, by Nelspruit Vliegveld, het ook 10 bottels spuitverf gebruik en sowat 20 koppe geskeer.
Gekleurdes en geskeerdes het boonop die geleentheid gekry om ‘n flip oor die dorp te maak, soos Kiewiet Bruwer, bestuurder van die vliegklub dit genoem het.
So ‘n pretvlug in een van ses vliegtuie onder andere ‘n Bathawk, Cessna 172 en ‘n Archer sou hulle net R250 ekstra kos.
“Dit was groot sports,” sê Bruwer. “In totaal het ons so 27 flips gedoen. Die hele vliegspan het saamgewerk om vliegtuie te borg. Al die geld wat ons daarmee gemaak het, het nét so aan KANSA gegaan, die vlieëniers het geen geld gevat nie. Ons het altesaam so R7 000 ingesamel.”
Jacqueline Weideman van KANSA Nelspruit, sê die Shavathon-geleenthede in Mbombela alleen het altesaam R30 000 ingesamel.
“Sabie het R9 400 en Sabi River Sun het ‘n allemintige R13 000 ingevorder. Barberton het ons verras en amper vir Mbombela met ‘n yslike R25 000 verbygesteek.”
Weideman sê die geld gaan aan kankernavorsing bestee word, om mense oor kanker in te lig en om diegene wat die siekte onder lede het, te ondersteun.
