Skud jou vere reg: Skool vier ‘n volle 120 jaar die naweek
Om hierdie merkwaardige mylpaal te herdenk, nooi Laerskool Oosterlijn alle oudleerlinge, onderwysers, oud-Boveniete en Hoërskool Waterval Boven-leerlinge uit om vanaf 13 tot 15 Maart 'n feestelike reünie by te woon.

WATERVAL BOVEN – Laerskool Oosterlijn is ‘n multikulturele skool wat vandag met 170 leerlinge spog. Die skool is in 1895 in Waterval Boven gestig en doen hulle leuse vandag nog gestand: Altyd hoër.
Om hierdie merkwaardige mylpaal te herdenk, nooi Laerskool Oosterlijn alle oudleerlinge, onderwysers, oud-Boveniete en Hoërskool Waterval Boven-leerlinge uit om vanaf 13 tot 15 Maart ‘n feestelike reünie by te woon.
Registrasie sal vanaf Vrydag 13 Maart om 16:00 by Oosterlijn se skoolsaal plaasvind.
Om 18:00 word die rolprent, Wat jy saai vertoon. Dit is jare gelede by Oosterlijn geskiet en volgens me. Amanda Botha, is verskeie oudskoliere daarin te sien. Kaartjies beloop R25 per persoon.
Saterdagoggend begin om 08:00 tot 10:30 met ‘n heerlike ontbyt by die NG Kerksaal. Om 11:00 begin die seremonie in die skoolsaal wat tot ongeveer 14:00 sal duur. ‘n Muntlegging in die vierkant ten bate van Laerskool Oosterlijn sal daarna volg, waarna gaste na Elangeni, langs Malanga Hotel op die N4 sal beweeg.
Vanaf 18:30 kan gaste uitsien na ‘n opskop en gesellige samesyn in die Elangeni-saal. Die naweek se verrigtinge sluit Sondag met ‘n kerkdiens af.
Vir verdere navrae en besprekings, kontak Botha by 082-803-3722 of amandabotha@xsinet.co.za of besoek Laerskool Oosterlijn se Facebook-blad.
