Musiek maak stadsaal propvol
Inwoners, leerlinge en ouers het saam met Pieter gesing en op die maat van die musiek gedans.
LYDENBURG – Musiekliefhebbers het Saterdagaand na die stadsaal vir die optrede van Afrikaanse sanger, Pieter Smith gestroom.
Die kunstenaar se optrede was deel van ‘n fondsinsamelingsprojek wat die Lydenburg Akademie Christelike Volkseie Onderwys (CVO) gehou het. Inwoners, leerlinge en ouers het saam met Pieter gesing en op die maat van die musiek gedans.
Pieter is ‘n bekende kunstenaar wat sy liefde vir musiek op ‘n jong ouderdom ontdek het. “Ek het dit geniet om op te tree, ek kon sien die gehoor geniet my musiek en hul deelname en saamsing was verblydend. Soms vind ‘n kunstenaar dat die gehoor nie op sy musiek fokus nie, maar vanaand was fantasties. As dit nie was dat ek op pad Mosambiek toe is nie, sou ek sommer môre terugkom.”
Hy het laat blyk dat sy aanhangers ‘n nuwe album met mooi oorsponklike liedjies in Augustus vanjaar kan verwag.
Maryke Viljoen, ‘n sekretaresse by Lydenburg Akademie, het gesê die skool is dankbaar oor die groot opkoms. “Die skool en beheerraad wil ‘n ieder en ‘n elk bedank wat die aand ‘n sukses gemaak het. Ons bedank die gemeenskap vir die goeie ondersteuning.”
