Pa en hul spruite gesels ruby om die vuur
Leerlinge, hul ouers en onderwysers kon saamgesels oor die toekoms van rugby by die skool.
LYDENBURG – Die pa-en-seundag Saterdag by Hoërskool Lydenburg was ‘n groot sukses. Hierdie dag, wat afgesluit is met ‘n lekker braai, was ‘n fondsinsamelingsprojek vir die Padlangsrugbyfonds wat gestig is om die rugby-infrastruktuur by die skool te verbeter.
Leerlinge, hul ouers en onderwysers kon saamgesels oor die toekoms van rugby by die skool.
Kwagga Smith, ‘n oudleerling van Laerskool Lydenburg en Springbok-sewesrugbyspeler, was ook daar. Dit was juis hy wat met ‘n sierlike skop van die rugbybal, bepaal het wie die wenner van ‘n skaap sou wees.
Papierborde is teen R100 aan pa’s en seuns verkoop en verspreid op die rugbyveld geplaas.
Die wenner was dié een wie se bord die naaste aan die val van die bal was. Vier rugbytruie, twee Springboktruie van agsteman Duane Vermeulen, ‘n WP-trui ook van Duane en ‘n Springbok-sewestrui van Kwagga is opgeveil. Volgens Otto Schulze, sportorganiseerder by die hoërskool, is sowat R4 000 per trui met die veiling ingesamel.
Elke eerstespanrugbyspeler het ook die dag ‘n pet van die skool ontvang. Dit is deur Kwagga aan hulle oorhandig.
