Waterval Boven: Vullis vir eerste keer in maande verwyder
Volgens mnr. Rudolph Pretorius, een van talle moedelose inwoners, het dienslewering byna totaal en al tot 'n stilstand gekom.
WATERVAL-BOVEN – Inwoners kan voorlopig ‘n sug van verligting slaak nadat vullis vir die eerste keer in byna drie maande in dié dorp verwyder is.
Volgens mnr. Rudolph Pretorius, een van talle moedelose inwoners, het dienslewering byna totaal en al tot ‘n stilstand gekom. Waterval-Boven is een van vier dorpe onder die eMakhazeni Munisipaliteit se bestuur wat sedert verlede jaar onder onwettige stakings weens konflik in die munisipaliteit swaar gebuk gaan.
Alhoewel die vullisverwydering inwoners se hoop weer laat opvlam het, meen Pretorius die stryd is nog lank nie verby nie.
Volgens hom is straatligte steeds buite werking en waterdruk in die bo-dorp onaanvaarbaar. Pretorius sê ook dat die watergehalte steeds ‘n ernstige kwelpunt is.
Laevelder het vroeër berig dat Escherichia coli, beter bekend as E. coli, einde verlede jaar in Waterval-Boven se drinkwater aangetref is.
Die koerant het vir ‘n tweede keer die jongste waterverslae aangevra, maar die Departement van Water en Sanitasie kon weer niks verskaf nie.
Die nuutste resultate is dié van November verlede jaar wat aangedui het dat daar E. coli in die drinkwater is.
Die koerant het die afgelope week vertroulik verneem dat mnr. Dave Hepworth, een van die munisipaliteit se ingenieurs wat nou by die dorp se waterprobleme betrokke is, se kontrak onlangs verstryk het en nie weer hernu is nie. Hepworth kon nie vir kommentaar bereik word nie.
“Daar is nou niemand met die kennis en ondervinding om soortgelyke probleme uit te sorteer nie,” het ‘n bekommerde bron aan Laevelder gesê.
Pretorius het hierby aangesluit en gesê hy is moeg vir leë beloftes wat deur die munisipaliteit gemaak word. Hy meen dat talle persone, die gesondheidsinspekteur sowel as die munisipaliteit se tegniese bestuurder, deeglik van die probleme wat inwoners op ‘n daaglikse basis in die gesig staar, bewus is. “Hulle is terdeë bewus van my klagtes, maar tot op datum het nie een van hulle kontak gemaak om die klagte te ondersoek nie.”
Pretorius het agt maande gelede in ‘n desperate poging die tegniese bestuurder uitgenooi om van die water te drink nadat hy (die bestuurder) volgens Pretorius ontken het dat daar ‘n probleem met dit is. “Volgens hom is daar geen fout met die watergehalte nie. Ek het hom uitgedaag om water wat ek van die filters af kry, te drink om sy stelling te bewys. Hy het my egter nooit besoek of eens gekontak nie.”
Lees gerus meer hier
