LifestyleLocal newsNewsNewsPeople

Lelievlei het geen meer plek vir behoeftiges

Frik Rousseau, is dit nie verbasend nie, aangesien die land, en meer spesifiek die dorp, 'n finansiële krisis beleef.

LYDENBURG – Lelievlei Deurgangs-kamp is sy volste nog in 12 jaar. Volgens direkteur van die kamp, mnr. Frik Rousseau, is dit nie verbasend nie, aangesien die land, en meer spesifiek die dorp, ‘n finansiële krisis beleef.

“Ons kan in die stadium geen mense meer inneem nie. Die meeste mense wat by Lelievlei kom aanklop, word afgedank of verloor hulle werk. ‘n Goeie voorbeeld is dié van kontrakteurswerk.

Die kontrakteurs by myne hernu dikwels nie die werknemer se kontrak nie en dan sit die persoon uit die aard van die saak sonder werk. Die groot toestrooming na Lelievlei kan direk gekoppel word aan dié probleem.”

Hy verduidelik dat die mense meeste van hulle besittings en eiendom verloor as gevolg van skuld wat steeds betaal moet word. “Die mense sit dus op die ou einde sonder ‘n heenkome en kom klop dan aan by Lelievlei.”

Rousseau verduidelik dat as gevolg van die finansiële toestand van die dorp, kry bitter min van die mense weer werk. “Dis soos ‘n bose kringloop en word daagliks al hoe erger.

Van Desember af het dit baie begin toeneem. Ons het 43 mense ingeneem van einde verlede jaar af. Dit sluit in enkellopendes en gesinne. Lelievlei moet ook nou voedsel verskaf aan mense wat nie daar woon nie en dit vermeerder weekliks.” Hy meen dat die ekonomiese toestand van die dorp baie beroerd is.

Me. Maritza du Toit van Solidariteit se Helpende Hand-tak in Lydenburg bevestig dat mense finansieel baie swaar kry.

“Helpende Hand onderhou tans vyf gesinne wat werkloos is. Hulle is almal gekwalifiseerd met goeie opleiding en ervaring, maar kry nie werk nie.

Ons het die afgelope maand ongeveer 25 aansoeke om hulp ontvang waarvan ons 17 moes wegwys weens tekort aan voedselskenkings. Ons ontvang relatief baie voorraad wat klere betref en selfs linne, maar voedsel is baie beperk.”

Sy sê dat die Christelike Maatskaplike Road (CMR) vier gesinne na Helpende Hand verwys het omdat dié instansie net so ‘n groot tekort aan voedsel het.

“Hulle onderhou tans 45 gesinne wat elke twee weke ‘n klein kospakkie ontvang wat min of meer twee na drie dae hou, afhangende van die aantal persone in die gesin. Die CMR wys ongeveer twee gesinne daagliks weg weens ‘n voedseltekort. Naas ons en die CMR het Lelievlei in die omgewing van 67 inwoners.”

Sy meen dat die meeste mense wat hulpbehoewend is, werkloos is weens die feit dat hier nie werk in Lydenburg is nie. “Dit blyk algemene praktyk van die myne te wees om eerder mense vanaf ander dorpe (Rustenburg) in diens te neem as om ons eie mense werk te gee.

Ongelukkig het die epidemie in Rustenburg ook veroorsaak dat hordes mense hierheen gestroom het met die hoop op werk by ons myne. Talle van daardie werksoekers is aangestel ten koste van ons plaaslike mense en dit het ‘n bykomende las op ons welsynsorganisasies geplaas.”

Sy vertel dat die laerskool tans in die omgewing van 50 behoeftige kinders het wat by die toebroodjieprojek baat. “Dit kan egter meer of minder wees want dit wissel. Elke kwartaal kry een van die kerke ‘n beurt om die projek te ondersteun en voorsien dan die hele kwartaal daaglikse toebroodjies aan die kinders.

Die kerk se lede voorsien self die toebroodjies. Ek self het verlede jaar in April, die tweede kwartaal, die broodjies voorsien nadat een van die kerke wie se beurt dit was, dit nie kon volhou nie. In daardie stadium het 45 kinders daagliks kospakkies gekry. Van die leerlinge of bykans die meeste van hulle het glad nie kos by die huis nie.”

Du Toit sê dat die meeste van dié kinders se gesinne ook op Helpende Hand en CMR se lêers is vir hulp.

“Die skooltassies gaan ook aan dieselfde kinders. Ons skenk dit jaarliks aan die skool om aan te wend waar nodig. Die skool besluit egter self vir hoeveel tassies hulle aansoek doen. Hierdie jaar het hulle aansoek gedoen vir 20 tassies.”

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button