Hard newsLocal newsMunicipalNewsNews

Uitslae van watertoets dui op besmetting

Dié organisasie het verskeie water- monsters geneem uit onder andere die Dorpsrivier - onder en bo- die riool- suiweringspompwerke en ook drinkwater by Hoërskool Lydenburg.

LYDENBURG – AfriForum Lydenburg het Maandag hulle jaarlikse toetse gedoen om die kwaliteit van die dorp se water te toets.

Dié organisasie het verskeie water- monsters geneem uit onder andere die Dorpsrivier – onder en bo- die riool- suiweringspompwerke en ook drinkwater by Hoërskool Lydenburg. Die toetse sal vasstel of daar enige E. coli of fakale afval in die dorpswater is.

Die hoeveelheid nitrate in die water is ook bepaal na die watermonsters versamel is. Dit is meer as twee jaar sedert die laaste Bloudruppelverslag bekendgemaak is.

Die regering was veronderstel om die verslae bekend te maak, maar het met dié proses gesloer. Die koerant is egter in kennis gestel dat die verslag eindelik onlangs aan die verskeie provinsies gestuur is, wat op hulle beurt dit aan hulle onderskeie munisipaliteite sou aanstuur.

Die koerant het Leon de Jager en Erich Venter van AfriForum vergesel toe monsters van die water geneem is. By die rioolpompstasie was daar egter nie ‘n siel in sig nie en volgens De Jager moet dié pomp 24 uur beman word. Die hele terrein is ook toegegroei en die pompe het automaties gepomp sonder enige toesig.

AfriForum vertel dat meer as 500 000 mense jaarliks wêreldwyd sterf weens onbehandelde drinkwater.

“Dit kom basies neer op vier kinders wat elke 90 sekondes sterf. Een-en-twintig babas is verlede jaar in Bloemhof weens onbehandelde drinkwater gehospitaliseer, terwyl drie daarvan gesterf het. Twaalf babas is ook in Sannieshof aan dieselfde oorsaak oorlede.”

AfriForum meen dat gevalle soos dié wat in Bloemhof plaasgevind het, kan voorkom kon word indien die Departement van Waterwese sy Blou- en Groendruppelverslae aan die publiek bekend gemaak het. “Die Departement van Waterwese weier egter volstrek om sy verslae aan die publiek bekend te maak, aangesien dit die departement sowel as die onderskeie munisipaliteite in ‘n swak lig gaan plaas.”

Dit is die rede hoekom AfriForum besluit het om die water-kwaliteit van verskeie dorpe te toets.”Die Bloudruppelprojek toets die kwaliteit van die dorp se drinkwater en die Groendruppelprojek toets die kwaliteit van rioolwater in jou dorp,” aldus Julius Kleynhans, hoof van omgewingsake by AfriForum.

Die burgerregte-organisasie het deur die loop van verlede jaar 107 dorpe se waterkwaliteit getoets, waarvan 11 dorpe se water nie op standaard was nie.

“Deur die regte stappe te neem, kon ons die gemeenskappe vroegtydig waarsku, skoon water aan ons mense voorsien, munisipaliteite aanvat en die dorpe wat geraak word se water binne 24 uur weer op standaard kry. Meer as 240 000 mense se gesondheid is danksy iets so eenvoudig soos tydige watertoetse verbeter,” verduidelik die organisasie.

De Jager het aan die koerant verduidelik dat Lydenburg veronderstel is om van die goedkoopste water in die land te hê, aangesien die dorpswater direk uit ‘n fontein, wat uit die nabye berge vloei kom. “Die munisipaliteit het dus nie nodig om water aan te koop nie en dis hoekom ons van die goedkoopste water behoort te hê.”

Die uitslae wat E. coli en fakale inhoud bevestig neem tot 48 uur. Die nitraatinhoud van die monsters was normaal. Teen druktyd kon die koerant bevestig dat daar wel besmetting in sowel die drink- as rivierwater is. Die monsters sal nou na laboratoriums gestuur word om te bepaal wat die konsentrasie van die besmetting is.

Die koerant het die munisipaliteit versoek om ‘n afskrif te kry van die nuutste Blou- en Groendruppelverslag aangesien dié verslae volgens wet aan inwoners bekend gemaak moet word. Teen druktyd is die verslag nie bekend gestel nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button