Jong leerkragte gereed vir uitdagende beroep
"Hierdie jong span het met 'n positiewe uitkyk op die onderwys na hul skole teruggegaan om hul talente en kennis daar te gaan belê," het Kleynhans gesê.
MBOMBELA – Die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU) bied jaarliks vir nuwelinge in die onderwys ‘n bemagtigingsessie aan om hulle slaggereed vir hul taak te maak.
Hierdie jaar was geen uitsondering nie en op 18 Maart, het 15 plaaslike onderwysers van Hoërskool Bergvlam, Laerskool Bergland, Hoërskool Nelspruit en Nelspruit Primary die pad Middelburg toe aangedurf om hulself vir die uitdagings wat hierdie “veeleisende, maar bevredigende beroep” aan hulle gaan stel te bemagtig.
Deon Lerm, provinsiale sekretaris, en twee voltydse vakbondverteenwoordigers Cathy de la Harpe en Helouise Maritz, het die nuwelinge oor al die belangrike sake ingelig waarvan hulle moet kennis neem.
Babette le Roux van die professionele ontwikkelingsdienste het hindernisse ten opsigte van leerders hanteer, terwyl Gerrie Jordaan die hantering van dissipline aangespreek het.
Volgens die onderwysers was dit egter ds. Etienne Rossouw wat bywoners met die tema “Ek kan dit vat”, toegespreek het wat ‘n hoogtepunt was.
Volgens me. Annemarie Kleynhans, mediabeampte van die SAOU Provinsiale Raad, het die onderwysers gesê dit was veral goed om as jong, beginner-opvoeders saam te kom en te hoor dat almal dieselfde uitdagings in die gesig staar.
“Hierdie jong span het met ‘n positiewe uitkyk op die onderwys na hul skole teruggegaan om hul talente en kennis daar te gaan belê,” het Kleynhans gesê.
