CrimeHard newsLocal newsNewsNews

Heunis skuldig aan strafbare manslag

Me. Michelle Curgenven is op 4 Julie 2013 doodgeskiet. Verkeersman Johan Heunis is teen die verwagtinge van vele aan strafbare manslag, eerder as moord, skuldig bevind.

MBOMBELA – Die hof het beslis: Michelle Curgenven se skietdood was ‘n ongeluk.

Vriende en familie was oortuig daarvan dat verkeersman Johan Heunis (58) skuldig bevind sou word op die klag wat teen hom gelê is – een van moord. Gisteroggend het Curgenven se vriende en familie angstig in die hof se getuiekamer gesit en gewag om te hoor of die vonnisprosedure ná 11:00 voortgaan. “As dit nie moord is nie, dan bestaan daar seker nie meer ‘n misdaad met die naam moord nie,” het me. Charmaine Steyn, suster van Curgenven gesê, haar stem beswaard en haar stelling skaars hoorbaar. Soos almal om haar, was hulle oë op die grond vasgenael. “Hoe maak dit sin?” het ‘n vriendin, me. Margaret van Rensburg se vraag in die lug bly hang.

Regter Peter Mabuse se uitspraak het die galery verstom. Terme soos “bo redelike twyfel” en “grondwetlike reg tot stilswye” kan nie gemoedere sus wanneer ‘n mens ‘n geliefde nie weer lewend kan word nie.

Laevelder het in Julie 2013 berig dat Heunis gearresteer is vir die moord op me. Michelle Curgenven, ‘n 36-jarige ma van twee wat as adminstratiewe assistent by die munisipaliteit gewerk het. Heunis is op die toneel waar Curgenven se liggaam in haar motorhuis in Steiltes se Tussenberge-kompleks aangetref is, in hegtenis geneem. Hy is van moord aangekla, maar het in sy pleitverduideliking skuld beken op ‘n klag van strafbare manslag.

Hy het in hierdie pleitverduideliking aangevoer dat sy verhouding met Curgenven potensiaal getoon het om in ‘n liefdesverhouding te ontaard. Haar vriende en familie het dit ontken en gesê dat sy geen gevoelens vir hom gehad het nie.  Heunis se pleitverduideliking vertel dat daar stilswye was tussen hom en Curgenven nadat sy ‘n hangertjie wat hy vir haar gekoop het, vir hom teruggegee het. Sy het hom glo op 4 Julie gevra om haar na haar woning in Tussenberge te vergesel, haar bedoeling om vrede te maak te kenne gegee en vir hom wyn aangebied.

Dié skielike gebaar het Heunis emosioneel laat reageer. Hy het sy dienspistool gaan haal en het in haar motor se passassiersitplek gaan sit, waar hy selfmoord wou pleeg. Curgenven was in die bestuurdersitplek en dit was toe sy hom probeer keer het om die wapen se sneller te te trek dat sy noodlottig getref is.

Kapt. Christian Mangena, ballistiese kenner wat ook in Oscar Pistorius se verhoor getuig het, het teen Heunis se weergawe getuig. Luidens Mangena se verslag wat hy aan die hof voorgehou het, was daar só min kruitneerslag op Curgenven se klere en liggaam dat die pistool se loop twee tot drie millimeter van haar vel af moes gewees het toe die doodskoot gevuur is. Die spoor wat die koeël gelaat het, bewys volgens Mangena dat sy voor haar gekyk het, toe sy geskiet is. Mangena is deur adv. Piet Pistorius onder kruisondervraging gevra in watter posisie die persoon wat die sneller getrek het, gestaan het toe die skoot afgevuur is. Mangena het getuig dat dit nie ter sake was vir sy ondersoek nie. As ballistiese getuie moes hy die trajek van die koeël ondersoek.

“Kaptein Mangena het nie ontken dat die skoot wat Curgenven gedood het, per ongeluk afgevuur kon gewees het nie,” het adv. Pistorius tydens sy slotbetoog Woensdag namens sy kliënt gesê. Staatsadv. Johan Kotzé het aangedui dat hy Mangena se getuienis anders herroep. Verskeie lede van die publiek in die galery het hul koppe met dié stelling instemmend geknik.

Pistorius het tydens die slotbetoog aangevoer dat Heunis nie die getuiebank sal betree nie en die hof daarop gewys dat dit ongrondwetlik is om negatiewe gevolgtrekkings hieruit te maak. Pistorius het dit so gestel: “Die staat se saak moet bo redelike twyfel bewys dat Michelle Curgenven opsetlik deur Johan Heunis doodgemaak is.  Heunis se pleitverduideliking voer aan dat die skoot per ongeluk afgegaan het.  Die staat sal die teendeel bo redelike twyfel moet bewys voordat Heunis aan moord skuldig bevind kan word.”

Mabuse se uitspraak van strafbare manslag sal op 3 en 4 September opgevolg word deur strafversagtende en -verswarende getuienis.  Dr. Eugene Viljoen sal strafversagtend getuig oor Heunis se sielkunidge toestand.

Lees ook:

Heunis volstaan by sy pleitverduideliking

Ballistiese kenner verskil van Heunis se pleitverduideliking

 

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button