CrimeLocal newsNewsNews

Jong egpaar ontduik aanvallers by kitsbank

Ruan het snuf in die neus gekry toe hy sien die Toyota Corolla ry weg sonder om vir die twee passasiers te wag. Hy het sy vrou beveel om dadelik in die voertuig te klim. “Ek wou nog teenstribbel, maar hy was baie ernstig en ek het maar gedoen soos hy gevra het,” sê Hanna-Mart.

‘n Jong getroude paartjie, Ruan en Hanne-Mart Meyer, het Donderdagaand lig daarvan afgekom toe skelms hulle probeer oorval het by die Nedbank-outoteller in Crownstraat. “Ons het van Shoprite se kant af gery. Voor ons ‘n U-draai in die pad gemaak het, het daar ‘n enkelkajuit Hilux-bakkie in die parkeerarea gestop,” vertel Hanne-Mart.

Nadat Ruan aan die ander kant van die pad, reg voor die kitsbank parkeer het, was die man van die Hilux reeds besig by die kitsbank. Hanne-Mart het uitgeklim en agter hom in die ry gaan staan. “Dit was omstreeks 18:30 en nog glad nie so laat nie,” vertel sy.

Terwyl sy haar beurt afgewag het, het Ruan bewus geword van ‘n groen Toyota Corolla met vier insittendes wat ook aan die oorkant van die straat parkeer het. Die twee passasiers aan die linkerkant van die kar het uitgeklim en ook in die ry kom staan.

Iets het klaarblyklik fout gegaan by die kitsbank en op die oog af het dit vir die paartjie gelyk of die eerste besoeker nie sy transaksie kon voltooi nie. Een van die twee mans agter in die ry het vorentoe beweeg om hom vermoedelik te gaan help.

Ruan het snuf in die neus gekry toe hy sien die Toyota Corolla ry weg sonder om vir die twee passasiers te wag. Hy het sy vrou beveel om dadelik in die voertuig te klim. “Ek wou nog teenstribbel, maar hy was baie ernstig en ek het maar gedoen soos hy gevra het,” sê Hanna-Mart.

Met die inklimslag het die man wat eerste by die kitsbank opgedaag het haar deur gegryp en probeer oopruk, maar Hanna-Mart het die deur net betyds toegekry. Ruan het dit reggekry om weg te jaag, maar nie voor die man die kant van die deur met een of ander voorwerp bygekom het nie.

“Die deur het skade opgedoen, maar ek is net dankbaar dat ons ongedeerd uit die petalje gekom het. Mense in die dorp moet asseblief versigtig wees wanneer hulle ‘n kitsbank besoek en dit verkieslik nie na-ure doen nie. Wees ook op die uitkyk vir hierdie twee voertuie.”
Die saak is by die SAPD aangegee en word tans ondersoek.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button