MBOMBELA – ‘n Jong getroude paartjie se rus en vrede is Dinsdagaand wreed versteur nadat hulle deur vier mans by hul woning in The Rest se omgewing oorval is.
Mnr. Jannie Stander en sy eggenoot, Amoré, het pas by die huis gekom, toe ‘n man rustig instap en ‘n pistool op hulle rig. Jannie was besig om te eet toe hulle met ‘n pistool teen sy kop sy kos van sy skoot afhaal, op die koffietafel neersit en sê: “As jy saamwerk, sal ons nie jou vrou verkrag nie.” Sonder enige geweld, maar met ‘n mes in die hand het hulle sy vrou langs hom op die bank neergesit. “Toe ek vir Tego, ons staffie, hoor blaf, het ek gedink hy blaf vir ‘n bosvark of ander hond,” sê Jannie. Hy het hom tevergeefs probeer stilmaak. Die volgende oomblik het die verdagte in die deur met sy vinger op sy mond gestaan en sy makkers agter hom. In Afrikaans het een van hulle vir Tego gesê, “kom, kom,” en hom saggies by die deur uitgehelp en dit toegemaak.
Die paartjie het tjoepstil bly sit, terwyl die boosdoeners die huis geplunder het.
Intussen het hul buurvrou, me. Louise Lion Cachet die lawaai gehoor en na hulle geroep om te hoor of alles in orde is. Die paartjie is toe na die spens gesleep waar niemand hulle kon sien nie. Jannie het versigtig aan die verdagtes verduidelik dat hulle by die voordeur kan uitgaan om Tego the vermy. Terwyl die verdagte ‘n mes teen Amoré se keel gehou het, het hulle na die agterdeur beweeg om die sleutel te gaan haal.
Die volgende oomblik het Lion Cachet aan die deur geklop. Sonder haar medewete, het die hoofverdagte ‘n vuurwapen op haar gerig, terwyl Amoré aan haar verduidelik dat alles in orde is. “As jy k*k maak, skiet ek,” het die verdagte aan Jannie gesê.
Uiteindelik het hulle die sleutel in die hande gekry, die voordeur oopgesluit en gedreig om vir Tego te skiet as hy hulle sou aanval. “So asof hulle weet hoe erg ons oor hom is,” sê hy.
Lion Cachet het later ook by die voordeur opgedaag, sekondes na die verdagtes daar uit is. Jannie het haar in die huis ingetrek en die veiligheidshek gesluit.
Die verdagtes is met die sleutel vort, en Jannie moes toe die diefwering breek om by die huis uit te gaan. Hy het gewag totdat dit veilig is, en na Lion Cachet se huis gehardloop en die paniekknoppie gedruk. Hy het hier besef dat dit blote genade was dat niemand hul eie paniekknoppie probeer druk het nie, wat die situasie drasties kon vererger het. Hi-Tech Sekuriteit Nelspruit asook die polisie het kort na die voorval opgedaag. Die verdagtes het ondermeer met Amoré se trouring, hul televisie, selfone, vleis en ander persoonlike besittings gevlug.
“Ons het baie lekker hier gebly, maar ek twyfel of ons ooit sal teruggaan,” sê Jannie “Die ergste was toe die verdagtes sonder enige vermomming in die deur verskyn. Niemand kan hulself voorberei daarvoor nie.”
