Met ‘n gejuig en breë glimlagte het leerlinge van Hoërskool Rob Ferreira op 17 April die strate ingevaar vir ‘n optog om die skool se sestigste bestaansjaar te vier.
Elke graad het gedurende die voorafgaande week aan een van ses vlotte gewerk, wat die ses dekades sedert die skool se ontstaan uitbeeld, en het trots agter hul vlotte geloop. ‘n Vloot van byna 40 motorfietse, insluitend die van Witrivier SAPD se honde-eenheid, het die groep vergesel en die Radio Laeveld omroeper, Robin Jansma, het vanuit Haasdas se nuuskas besighede en gemeenskapslede langs die roete luidkeels gegroet.
Na hul tog van etlike kilometers, kon die Robbies aan heerlike eetgoed van die verskeie stalletjies op die skoolterrein smul. Die koue reënweer het die leerlinge ook nie weerhou van pret op die verskeie glybane, bunjee-kasteel en trampoliene nie.
Jong, plaaslike sangers, ‘n vioolspeler en die Robbies musiekgroep Born to Worship, het die gehoor later die aand vermaak, met aspirantomroepers Cleopatra Tolla en Arno Smith wat as seremoniemeesters opgetree het. ‘n Klein groepie gemeenskapslede, personneel en leerlinge het die koue aandlug aangedurf om na Joe Niemand se optrede te luister en is geïnspireer met liedere soos “Frankenstein” en “Ek sal nie bang wees nie”.
Saterdag het oud-Robbies van heinde en verre gekom om saam op die skool se sportveld te braai. Onder die eregaste was mnr. Rob Ferreira se seun, Martin Ferreira, wat steeds in die omgewing woon en sy suster, Angela van Rooyen. Eersgenoemde het gepraat oor die ontstaan van die skool, sy pa se doelstellings en hoe trots hy op die skool se groei sou wees.
Die skoolhoof, mnr. Dawie Oberholzer, het daarna gesels oor die skool se planne vir die toekoms en die verbeterings wat reeds aangebring is. Gaste is genooi om ‘n Oud-Robbieklub te help stig om alumni by die skool se aktiwiteite betrokke te hou. Hulle is daarna op ‘n toer deur die skool geneem, waarna die vure aangesteek, rugby gekyk en tot die vroeë oggendure gekuier is.
Die naweek is afgesluit met ‘n seëndiens, waar verskeie kerke die Here geprys het vir sy seën oor Hoërskool Rob Ferreira die afgelope 60 jaar. Daar is vir die skool, hoof en personeel gebid en ‘n seën uitgespreek.
Sien foto’s van die optog hier, pret in die waterpark hier en die talentaand hier.
