Inwoners op hul hoede na inbrake
"Die verdagte wat aangekeer is het in die veld gelê en slaap," het Meintjies gesê.
Die inwoners van Stonehenge is die afgelope paar weke meer op hul hoede omdat dit blyk dat inbrake drasties in dié omgewing toeneem.
‘n Verdagte in ‘n inbraak is die naweek in hegtenis geneem, maar vier van sy makkers is na vermoede nog op vrye voet.
Mnr. Jacques Meiring, operasionele hoof van Bossies Community Justice (BCJ) sê egter dinge is onder beheer.
“Oor die afgelope week was daar slegs een inbraak en ‘n arrestasie is wel gemaak,” het hy bevestig.
Hy het ook gesê dat sigbaarheid in die omgewing verskerp is.
Mnr. André du Plessis was nietemin een van die slagoffers toe diewe Saterdag omstreeks 03:45 by die Dio Sole-kompleks waar hy woon, toegeslaan het. Hy is van sy skootrekenaar ontneem.
Flink optrede deur Hi-Tech Sekuriteit Nelspruit, ADT Sekuriteit, BCJ, Nelspruit Concerned Citizens en die polisie het daartoe gelei dat een van die vermeende inbrekers sy rieme styfgeloop het. Volgens mnr. John Meintjies van die gemeenskapspolisiëringsforum en Stonehenge Against Crime het hulle die veld waarin die vermeende bende gevlug het, afgebaken om die volgende oggend verder na hulle te kan soek.
“Die verdagte wat aangekeer is het in die veld gelê en slaap,” het Meintjies gesê.
Die skootrekenaar is teruggevind. Daar is ook op verskeie bankkaarte beslag gelê. Du Plessis het sy dankbaarheid teenoor die betrokkenes uitgespreek en hulle geloof vir hul vinnige optrede.
