CrimeHard newsNewsNews

Ninja-hofsaak: All-Star tekkies help glo bendelid identifiseer

Laevelder het in 2011 berig dat die Onderberg onder verskeie gewapende rowe deurgeloop het en vier verdagtes is in hegtenis geneem. Die saak teen die vier gaan in Junie voort.

MBOMBELA – ‘n Paar All Star-tekkies en ‘n foto-uitkenningsparade het bygedra tot die identifisering van vier sogenaamde ninjas wat op 23 November 2011 in hegtenis geneem is. Die vier, wat aangekla word van verskeie rooftogte in die Onderberg, het hul slagoffers glo met gesteelde samoerai-swaarde as wapens beroof.

Mnre. Moses Silinda (31), Pieto Gwambe (28), Sam Chauke (37) en Venas Gavane (28) staan tereg op aanklagte van die onwettige betreding en verlating van Suid-Afrika, menseroof, die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie en drie aanklagtes van roof met verswarende omstandighede. Laevelder het in 2011 berig dat die Onderberg onder verskeie gewapende rowe deurgeloop het en dat vyf verdagtes in November van daardie jaar met behulp van ‘n foto-uitkenningsparade geïdentifiseer is.

Die koerant het foto’s van die verdagtes gepubliseer en die gemeenskap is gewaarsku om op die uitkyk te wees vir die sogenaamde ninjas. Konst. Delphas Mlandzi het in Februarie getuig dat hy op 23 November 2011 na ‘n rooftoneel ontbied is. Hy het op ‘n skoenspoor afgekom en ‘n gipsafdruk is daarvan gemaak.

Die SAPD, sekuriteitsmaat-skappye en gemeenskapslede het ‘n soektog van stapel gestuur en vier verdagtes is kort daarna gearresteer. AO Ivan Swart het Dinsdag getuig dat ‘n paar All Star-tekkies tydens inhegtenisname van een van die beskuldigdes gekonfiskeer is. “Ons het die gipsafdruk van ‘n skoenspoor op die rooftoneel gemaak en dit met die verdagte se regterskoensool vergelyk. Dit stem in talle opsigte ooreen. Behalwe vir die patrone op die sool en die grootte, kan ‘n mens op die afdruk sien dat die regterskoenspoor op die rooftoneel dié is van iemand wie se skoensool besig is om los te trek. Dit stem met die gekonfiskeerde regterskoen ooreen.”

Die saak is tot 4 Junie uitgestel en die beskuldigdes bly intussen in aanhouding.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button