
Chaos het verlede week by die lisensiekantore uitgebreek nadat die kommunikasiesisteem na bewering nie gewerk het soos dit moes nie.
Volgens mnr. Shawn Cross, wat self ‘n draai by die lisensiekantoor gemaak het, het die hek waar ‘n mens veronderstel is om jou nommer te kry, nie gewerk nie. “Mense het geen idee gehad waarheen om te gaan nie. Dit was net verwarde mense waar jy kyk,” het hy ontsteld aan Nelspruit Post vertel. Hy voeg by dat mense gereeld in die verkeerde rye geplaas is. Die koerant het ook klagtes ontvang dat personeel ongeskik was.
Die munisipaliteit is gekontak vir kommentaar en mnr. Thaba Ndou, wat aan die hoof van lisensies staan, het ontken dat daar pandemonium was. “Daar was geen vorm van chaos by die lisensiekantoor verlede week nie en ook nie hierdie week nie.”
Hy het die probleem toegeskryf aan beurtkrag wat geïmplementeer is, en bygevoeg dat die toestroming van kliënte op die laaste werksdag van die maand nie ongewoon is nie.
Hy het wel bevestig dat die elektroniese stelsel nie op daardie stadium gewerk het nie omdat hulle van lyn af was. “Die hele sisteem was af, maar ‘n vloerbestuurder is wel ontplooi om met die bestuur van die rye te help.” Volgens hom het die vloerbestuurder dadelik daarvan werk gemaak om kliënte in die regte rye te kry.
Ndou was nie bewus van enige personeel wat “ongeskik” was nie, maar hy het gesê dat die saak ondersoek sou word.
Lees ook: Department of Health denies poor service at local clinic
