Plato Hydraulics – ‘n goed geoliede span
"Ons glo daaraan dat die kliënt altyd nommer een is. Dit is belangrik om mense tevrede te stel en nie weg te stuur sonder dít wat hulle gesoek het nie."

Om ‘n besigheid te begin is geen grap nie, maar om een te begin wat ‘n diens lewer waarvan jy min kennis het, is ‘n tameletjie. Tog is dit wat Frank Henning 15 jaar gelede gedoen het toe hy Plato Hydraulics by ene Barry Urtel gekoop het. Boonop het hy ook die skuif van Springs na Barberton gemaak.
Frank, wat uit ‘n elektronika-agtergrond kom, het dadelik verskeie kursusse begin bywoon om te leer waaroor hidroulika gaan. Vir die daaropvolgende twee en ‘n half jaar het hy alleen gewerk tot hy Johan Raath in diens geneem het.
Johan is na 13 jaar steeds by Plato Hydraulics en net soos Barend Spies wat intussen bygekom het en al 10 jaar daar is, is die res van die span ook al jare lank in diens van hierdie onderneming.
Die besigheid, wat eers in ‘n klein geboutjie geleë was, het later so gegroei dat Frank die gebou in die nywerheidsgebied waarin hulle tans is, gekoop het.
Hier het hulle ook deur die jare al moes bou en breek om voorsiening te maak vir al die hidroulise behoeftes. Vandag is Plato Hydraulics ‘n baie netjiese, groot en praktiese besigheid. By die ontvangstoonbank kan kliënte alles sien wat binne aangaan, en rye onderdele word op geordende rakke uitgestal. Mense kom van baie ver om hulle te besoek, want hoewel daar ander soortgelyke hidroulika-ondernemings in Mpumalanga is, het almal nie altyd alles wat kliënte nodig het nie. Dit is hier is waar Frank en sy span kop en skouers bo die res uitstaan. “Ons glo daaraan dat die kliënt altyd nommer een is. Dit is belangrik om mense tevrede te stel en nie weg te stuur sonder dít wat hulle gesoek het nie,” sê hy.
Sy seun, Heinrich het al van skooldae af in die besigheid gehelp. Frank sê dat Heinrich beslis meer van hidroulika geweet het voor hy gaan studeer het, as wat hyself geweet het toe hy die besigheid gekoop het. Nadat Heinrich twee jaar gelede graad gevang het, het hy voltyds by die span aangesluit. Frank vertel dat hy nie jonger word nie en dat hy baie dankbaar is dat hy ‘n seun het wat die besigheid sal kan oorneem.
Plato Hydraulics voorsien in die hidroulikabehoeftes van almal in die bosbou-, myn- en konstruksiebedryf, maar help ook die man op straat wat dalk vinning ‘n briekpypie kort. Wanneer jy hier om hulp aanklop, sal hulle daar en dan vir jou ‘n nuwe pyp maak wat presies soos jou ou een is. Jy hoef nie ‘n hele stel te koop soos wat dikwels gebeur wanneer jy by ‘n onderdelehandelaar instap nie. Vandag is alles is onder een dak, net soos Frank dit jare gelede al in sy visie voorgestel het.
Tans staan daar ‘n heldergeel blinknuwe enjin van ‘n Bell-masjien in die werkswinkel. Hierdie is een van vier wat hulle onlangs bestel het. Drie van die enjins is Tzaneen toe en hierdie een is nog te koop. Alhoewel Frank nie die prys wou bekendmaak nie, het hy wel genoem dat dit heelwat goedkoper is as wat die meeste handelaars sou vra.
Plato Hydraulics het ook geen probleem om nog van hierdie enjins op aanvraag te bekom nie.
Hidroulika is Frank en sy span se kos en hulle het aan Barberton Times verduidelik presies hoe hidrouliese olie werk om soveel krag te genereer.
Plato Hydraulics is in 17 Elsassarstraat geleë. Navrae: 013-712-4418.
In die volgende twee videos gesels Frank oor sy besigheid en die pad wat hy en sy span tot hier gestap het. Hy verduidelik ook in leketaal waaroor hidroulika nou eintlik gaan.




