CAIRN – ‘n Bejaarde man wat Dinsdagaand op die Cairn-pad vermis geraak het, is dieselfde aand ongedeerd op die Lydenburg-pad gevind.
Mnr. Alwyn Albertyn (85) het glo iemand by die Bosvark-kuierplek gaan aflaai en op pad terug huis toe, het hy, volgens Mnr. Jacques Meiring van Bossies Community Justice (BCJ), “die pad net ‘n bietjie byster geraak”.
Albertyn is omstreeks 21:15 dieselfde aand op die Lydenburg-pad gevind nadat gemeenskapsekuriteitsgroepe genader is om hom te help vind. Nelspruit Concerned Citizens, Van Wettens-insleepdienste en BCJ het ingespring om hom te kry.
“Hy is maar ‘n ou man wat maar net ‘n bietjie verdwaal het,” het Meiring gesê.
