Local newsNewsNews

Laerskoolkinders skitter met voortreflike digkuns

Talle van die leerders se gedigte is ook aan die mediasentrum se muur uitgestal. Daar gaan ook gepoog word om die gedigte in boekvorm te laat bind.

MBOMBELA – Jong digters het tydens die onlangse gedigtemaand by Laerskool Bergland lewe in woorde geblaas.

Die junior fase het alledaagse rympatrone effektief gebruik om humoristiese gediggies op te tower, terwyl die senior fase se leerders ‘n klompie temas met beeldspraak, metafore en vrye vers aangeraak het.

Om hierdie maand te kroon, was daar boonop ‘n digkompetisie en prysuitdeling wat op 18 Mei plaasgevind het.

“Die leerders het wonderlike talent getoon en daar was 130 deelnemers wat hul eie gedigte geskryf het,” het Wiana Eksteen, Bergland se mediasentrumonderwyser, genoem.

Die dramagroep onder leiding van Frances van Niekerk, het ook van die gedigte gedramatiseer en voorgedra. “Hierdie leerders het hul uitmuntende talent vir ons bewys. Die toeskouers het dit terdeë geniet,” het Eksteen gesê.

Elke digter het ‘n geskenkpak ontvang wat ‘n paar van die leerders se ma’s en Alida Smith van die Tina Cowley-leessentrum geborg het.

Volgens Eskteen was dit belangrik om die tema aan ‘n positiewe gesindheid te koppel. “Die belangrikste is dat elke “digter” ‘n wenner is. Net om deel te neem en met woorde kreatief te wees, was vir my belangrik,” het sy genoem.

Eksteen en twee medialeiers, Michelle Bezuidenhout en Tsholofelo Msiza, het gedurende April ‘n “gedigteboom” versier om sodoende die leerders te prikkel en aan te spoor om hulle eie gedigte te skryf. In die mediasentrum is gedigte voorgelees en ‘n verskeidenheid bloemlesings en boekies uitgestal. “Die taalonderwysers het ook spesifiek in die klasse aandag daaraan gegee en sodoende het ‘n digtersvlam onder die leerders posgevat,” het Eksteen opgewonde vertel.

Talle van die leerders se gedigte is ook aan die mediasentrum se muur uitgestal. Daar gaan ook gepoog word om die gedigte in boekvorm te laat bind.

“Ons vertrou dat ons leerders voorwaar gemotiveer is en dat hulle sal aanhou skryf en dig,” het Eskteen verder gesê.

Die bekende kinderliteratuurskrywer en digter, Jaco Jacobs, was so beïndruk toe hy van hierdie gedigtemaand gehoor het, dat hy ook ‘n spesiale gedig aan die leerders opgedra het:

“Hier is ‘n paar woorde spesiaal vir jou:

ek hoop jou woorde sal bly skitter en blink,

dat jy altyd die taal sal laat speel en rinkink,

en ek hoop jou pen bly so vlytig – en vol ink!”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button