
MBOMBELA – Deelnemers van een van Suid-Afrika se gewildste kookprogramme, Kokkedoor, sal opsy moet staan, want drie leerlinge van Hoërskool Nelspruit (NHS) ken ook van kook.
Zander Scheurkogel, Monique van der Westhuizen en Annamé de Kock, gr. 12-leerlinge van NHS, het onlangs na die finale ronde van die Mpumalanga-sjefkompetisie deurgedring wat by Protea Hotel Malaga aangebied word. Annamé het ‘n tweede plek losgekook en daarmee saam ‘n oriënteringsbeurs asook ‘n naweekwegbreek by Numbi Hotel in Hazyview gewen.
Zander en Monique het in haar voetspore gevolg en het elkeen ook ‘n jaar oriëntering- en opleidingsbeurs van Fortis Hotelgroep ontvang. Hierdie opleiding sal in al die verskillende departemente van Protea Hotel voltooi word.
Wat hierdie prestasie egter selfs meer besonders maak, is dat slegs 15 deelnemers regoor die provinsie gekies is om aan die strawwe kompetisie deel te neem.
Volgens me. Erna Janse van Rensburg, gasvryheidstudie-onderwyser, is die blootstelling wat die leerders ontvang het van onskatbare waarde. “Die privaatsekor en hotelbedryf het uit hulle pad gegaan om leerders te trek,” het sy gesê en die leerlinge met hul uitslae gelukgewens.
