MBOMBELA – Leerlinge van Hoërskool Nelspruit (NHS) het verlede week vir breë glimlagte by die KANSA-kantoor gesorg toe hulle ‘n totaal van R4 800 aan dié organisasie geskenk het.
Verskeie Nellies het hul hare ten bate van die Sprayathon wat by die skool gehou is, gekleur. Dit vorm deel van die jaarlikse KANSA Debutante- en Ambassadeursprojek, wat skoolkinders tussen die ouderdom van 16 en 21 die geleentheid bied om fondse in te samel en die boodskap oor kanker in Suid-Afrika te versprei.
NHS het vanjaar 14 debutante en vier ambassadeurs wat reeds verskeie kere hul hulp aan die plaaslike tak verleen het. Gedurende interhoër het hulle ‘n stalletjie beman wat sonbrandroom verskaf het en tydens Relay for Life het sommige van hulle met die administratiewe take gehelp en ook deelgeneem.
Volgens me. Magda van der Merwe, organiseerder van die projek by NHS, leer dit tieners om na die gemeenskap uit te reik en minder op hulself te fokus. “Onbaatsugtige diens word gelewer en ek beveel dit ten sterkste aan vir enige tiener om hierby betrokke te raak,” het Van Der Merwe gesê.
Die leerlinge het ook verskeie projekte vir die res van die jaar beplan wat onder andere ‘n pa-en-dogtersontbyt insluit asook ‘n funksie saam met die bekende motiveringspreker en skrywer, Susan Coetzer.
Dit beloof om ‘n genotvolle aand te wees waar Coetzer nie net gaste gaan motiveer nie, maar ook haar nuwe boek,’n Tas Vol Blues Songs gaan bekendstel.
Gaste kan verder na ‘n vertoning deur die plaaslike kabaretster, Natascha C uitsien, terwyl die voormalige Mev. Suid-Afrika, Laurette Batstone die program sal lei.
Dié funksie vind op 19 Junie by Emnotweni Arena plaas. Kaartjies is teen R120 per persoon by Karina (083-296-1597) beskikbaar of kan by die KANSA-kantoor in
Anneckestraat 6, gekoop word. Verversings word verskaf.




