Ontdek die skatte van SA en Maputo se kunswêreld
Die Innibos Kunssafari bied kunsliefhebbers die geleentheid om in 'n luukse, lugversorgde minibus van Johannesburg na Maputo te reis, en steeds die voordele en vermaak van die kunstefees te geniet.
MBOMBELA – Innibos het vanjaar die liefde vir kuns, nie net ‘n tree nie, maar ‘n paar honderd kilometer verder gevat.
Die Innibos Kunssafari bied kunsliefhebbers die geleentheid om in ‘n luukse, lugversorgde minibus van Johannesburg na Maputo te reis, en steeds die voordele en vermaak van die kunstefees te geniet.
“Die toer is ‘n reis per luukse lugver-sorgde toerbus vanaf Johannesburg via Kaapsehoop na Mbombela en dan weer via Witrivier na Maputo, en dan terug na Suid-Afrika,” het Sandra Jacobs, die fees se bemarkingsbestuurder gesê.
“Ons wil hê dat diegene wat op die toer gaan, die verskillende vorme van kuns op ‘n unieke manier kan ervaar – in Suid-Afrika én in Maputo.”
Die toer skop Dinsdag 30 Junie met ontbyt by die Bannister-hotel in Johannesburg af. Daarna vertrek toerlede per minibus na verskillende kunsgemeenskappe, insluitend Arts on Main in die stad.
Die bus hou dan weer op die Laeveld se eie kunstedorpie, Kaapsehoop, stil. Hier sal lede ‘n heerlike middagete by Bohemian Groove Café geniet voordat hulle na Mpumalanga se hoofstad vertrek.
Die bus stop net betyds in Mbombela vir die opening van die fees se visuele kunstentoonstelling, waar lede die geleentheid sal kry om die konseptuele kunstenaar, Willem Boshoff, saam met ‘n hele paar ander te ontmoet.
Die volgende dag besoek die bus verskeie plekke in die stad, wat die Mbombela-kunsgalery, die Nelspruit-stadskouburg en die Laeveld Botaniese Tuin insluit. Daarna vertrek hulle na Witrivier se kunsgalery en Artist’s Press in Brondal. Gaste sal die aand in die Graskop-hotel deurbring waar pragtige kunswerke ook ten toon gestel sal word.
Hierdie kunswerke sal dan ook die volgende dag besigtig word, waarna ‘n besoek aan die Modern Art Project en Sunshine-galery afgelê sal word. Op dag drie vertrek hulle Maputo toe. Chissano-kunsgalery, Sagrada Failia Church en Saint Ciprian Anglican Church is eerste op die lys.
Op die vierde dag sal lede te voet en bus aan Maputo se woonbuurte en museums bekendgestel word. Hierna vertrek die groep weer terug na Mbombela.
Dag vyf begin sommer met ‘n heerlike sjampanje-ontbyt by La Villa Vita waar Wouter Kellerman en vriende vir pragtige klassieke klanke sal sorg.
Ná ontbyt kan gaste die res van die dag by Innibos se feesterrein deurbring voordat hulle op 6 Julie weer na Johannesburg terugkeer.
Die toer kos R13 800 en sluit alle vervoer, begeleide toere, etes en verblyf in. Moenie jou paspoort vergeet nie!
Navrae: Sertorio by 082-970-9188 of aansertorio@ntwananotours.co.za





