Onderwyser gereed om Laerskool Laeveld te lei
"Dit was wonderlik toe ek die pos kry en dit was vir my 'n bevestiging van Sy Woord. Ek weet ek moet 'n daadwerklike verskil maak waar mnr. Stephen van Baalen 'n erfenis gelos het."
MBOMBELA – Sy vriendelike gesindheid en vermoë om werklik te luister en oplossings te vind, is iets wat jy dadelik opmerk wanneer jy mnr. Theo Krüger, die nuwe hoof van Laerskool Laeveld ontmoet.
Krüger is tans die onderhoof by Laerskool Bergland en gaan nou groter skoene moet vol staan. Dit is iets wat hy met ‘n gerustheid in sy hart aanpak nadat die sade alreeds drie jaar gelede by ‘n mannekamp vir hierdie nuwe avontuur geplant is.
“‘n Man het na my toe gekom en ‘n profetiese woord oor my lewe uitgespreek. Dit was wonderlik toe ek die pos kry en dit was vir my ‘n bevestiging van Sy Woord. Ek weet ek moet ‘n daadwerklike verskil maak waar mnr. Stephen van Baalen ‘n erfenis gelos het.”
Krüger het ‘n hart vir laerskoolkinders en hou daarvan om by die vorming en karakterbou van die jongklomp betrokke te wees.
Krüger het van ‘n jong ouderdom af leierskapseienskappe en ‘n liefde vir die onderwys getoon, iets wat sy onderwyser, mnr. Hennie Nel vir hom tydens sy skoolloopbaan by Sybrand van Niekerk in Sabie uitgewys het.
Ná skool het Krüger by die Normaal Kollege Pretoria (NKP) studeer, waarna hy diensplig in die weermag voltooi het.

Sy eerste pos was by Laerskool HM Swart in Bethal waar hy die volgende 21 jaar as wiskundeonderwyser skoolgehou het en ook vir twee jaar die waarnemende hoof was.
“Wiskunde was my alles. Dit is vir my die grootste vreugde om te sien hoe die kinders die terme begryp en te sien dat die ligte aangaan. Ek gaan die klasgee baie mis,” beaam Krüger.
Sy volgende pos was by Laerskool Bergland waar hy meer as 10 jaar lank onder meer die pos van onderhoof, sporthoof en akademiese hoof beklee het.
Sport is steeds een van Krüger se groot liefdes en iets waarop hy graag in sy nuwe hoedanigheid sal wil konsentreer. Hy het vir lank rugby- en krieketspanne afgerig en hulle na verskeie trofeë gelei.
Krüger noem ook dat die familie-atmosfeer by Bergland vir hom uitstaan waar almal ‘n verskil wil maak en altyd in die belang van die leerders optree. Bergland se huidige hoof, mnr. Gordon Lancaster, het vir Krüger baie leiding gegee.
“Daar was baie skooltoere en talle oomblikke in die klas en op die sportveld wat vir my baie spesiaal was by Bergland,” vertel hy. Na 30 jaar in die onderwys is dit die klein dingetjies wat saak maak, soos wanneer oudleerders vir Krüger skakel om te hoor hoe dit gaan. “Dit was absoluut wonderlik om een oggend ‘n oproep van ‘n oudleerling te kry, wat vir my gesê het dat hy nou in Australië bly en aan my gedink het toe hy op sy voorstoep sit.”
Nou is dit volstoom vorentoe in ‘n nuwe pos met nuwe uitdagings en geleenthede.
Interessante feite:
• Krüger is lief vir die wildtuin en het ‘n belangstelling in voëlfotografie.
• Hy is ‘n groot Leeus-rugbyondersteuner en besit ‘n getekende foto waar voormalige Springbokkaptein Francois Pienaar die 1995 Rugbywêreldbeker-trofee omhoog hou.
• Sy vrou Miemie hou ook skool by Laerskool Laeveld.
• Krüger se gunstelingmusiek is kontemporêre geestelike musiek soos dié van Chris Tomlin en Micheal W Smith.
• Sy gunstelingrolprente is Braveheart en The Last of the Mohicans.
