AnimalsHard newsMunicipalNewsNews

Vullisterrein hou groot gesondheidsrisiko’s in

Talle varke, bokke sowel as honde word by die stortingsterrein aangetref en volgens AfriForum, skryf hulle probleme soos die aan "staatsverval" toe.

WATERVAL BOVEN – Gemoedere het onlangs opnuut opgevlam toe inwoners teen die munisipaliteit se voortslepende mislukte dienslewering uitgevaar het – dié keer weens die haglike toestand van die stortingsterrein.

Laevelder het sedert die einde van verlede jaar oor verskeie kommerwekkende kwessies berig, wat onder andere die verwydering van vullis en die gehalte van die dorp se water ingesluit het.

Talle varke, bokke sowel as honde word by die stortingsterrein aangetref en volgens AfriForum, skryf hulle probleme soos die aan “staatsverval” toe. Mnr. Jaco Grobbelaar, assistentkoördineerder by AfriForum, meen dit is veral waterpoele op dié vullisterrein wat kommerwekend is en nie aan wetsvereistes voldoen nie.

“Besoedelde water kan verskeie giftige stowwe bevat wat na ondergrondse water deursyfer en só in boorgate, damme en riviere opeindig,” het Grobbelaar verduidelik en bygevoeg dat daar volgens wet geen damme water op ‘n vullishoop mag wees nie.

“Die diere op die vullisterrein versprei op hulle beurt peste en siektes na gemeenskappe en word soms ook geslag vir voedseldoeleindes.” Hy meen dit het ‘n groot negatiewe impak op mense se gesondheid. “Daar is geen toegangspunt met ‘n hek of sekuriteitspersoneel nie en geen vorm van rehabilitasie vind plaas nie,” het hy bekommerd gesê.

AfriForum het onlangs ‘n landswye ondersoek van stapel gestuur om vullisterreine se toestand te ondersoek en volgens Grobbelaar is dié probleem nie net in Waterval Boven nie.

“Dit is skrikwekkend om te sien hoe min munisipaliteite aan die minimum vereistes voldoen. Dit is nie net Boven wat so sleg lyk nie, maar ‘n reuseprobleem regoor die hele land. Dit is ‘n kriminele oortreding om ‘n vullishoop só te bestuur, of sal ek sê, nié te bestuur nie.”

Grobbelaar meen die munisipaliteit moet persoonlik daarvoor verantwoordelik gehou word. “Mense se lewenskwaliteit neem af en mense wil ook nie meer vullis gaan stort by ‘n terrein waar die pad so vol slaggate is nie. Die oplossing is om die klas van dienste wat die munisipaliteit versuim om te lewer, te privatiseer en self vullisbestuur toe te pas.”

Laevelder het die Emakhazeni-munisipaliteit vir kommentaar genader, maar teen druktyd geen inligting ontvang nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button