AfriForum verlig plaaslike nood
AfriForum het Woensdag 'n allemintige R10 000 aan die Christelike Maatskaplike Raad (CMR) in die dorp geskenk.
LYDENBURG – AfriForum het Woensdag ‘n allemintige R10 000 aan die Christelike Maatskaplike Raad (CMR) in die dorp geskenk.
Me. Melissa McCabe van die CMR het namens die organisasie groot dank teenoor AfriForum uitgespreek vir dié skenking.
Die CMR Lydenburg stuur tans verskeie projekte ter ondersteuning van die gemeenskap van stapel.
Van die projekte sluit in ‘n Spelling Bee-projek waar skoolkinders die geleentheid kry om hul potensiaal en selfvertroue op skolastiese vlak deur spelkompetisies te ontwikkel, ‘n kraleprojek waar gestremde en werklose vroue deur middel van hul handewerk ‘n inkomste kan genereer, asook ‘n kos- en klereprojek.”
Daar is tans sowat 45 minderbevoorregte gesinne met kinders wat elke tweede week kospakkies en klere by die organisasie ontvang.
Die CMR het ook ‘n assesseringsprojek waar getraumatiseerde kinders jaarliks vir waarneming na gekwalifiseerde sielkundiges of arbeidsterapeute gestuur word.
“Sonder ondersteuning en hulp van die publiek, is dit vir ons onmoontlik om enigsins in die behoeftes van die gemeenskap te voorsien. Enige donasie maak dit vir ons moontlik om uit te reik na diegene in nood,” het McCabe gesê.
Mnr. Leon de Jager, voorsitter van AfriForum, het gesê dis’n gemeenskapsorganisasie wat probeer om alle aspekte van die gemeenskap, ook die nood, aan te spreek. “AfriForum vertrou dat hierdie skenking die CMR sal help om ‘n verskil te maak aan die nood in ons gemeenskap.”
