Bystand aan skole lewer goeie oes op
Dié inisiatief vorm deel van NHS se gemeenskap-opheffingsprojekte waartydens Sanlam jaarliks fondse bewillig om dié projekte te laat slaag.
MBOMBELA – ‘n Gesamentlike poging deur Hoërskool Nelspruit (NHS) en Sanlam het onlangs vrugte afgewerp en vir breë glimlagte gesorg toe hulp op verskeie terreine by twee plaaslike skole aangebied is.
NHS en Sanlam het op 23 Junie ‘n ererol aan die Cyril Clarke Secondary School oorhandig en besoek afgelê by die splinternuwe adminastratiewe gebou van die Sehlulile Primary School.
Dié inisiatief vorm deel van NHS se gemeenskap-opheffingsprojekte waartydens Sanlam jaarliks fondse bewillig om dié projekte te laat slaag.
Gedurende 2014 het NHS by Cyril Clarke Secondary School betrokke geraak en bystand verleen om gr.12-leerlinge van dié skool doeltreffend vir die eindeksamen voor te berei.
Volgens Liezel Haasbroek, skakelbeampte van NHS, het dié inisiatief wonderlike resultate opgelewer en het die skool se slaagsyfer van 79 tot 89 persent gestyg.
“Die program behels dat NHS-personeel nie net ondersteuning met ekstra klasse bied nie, maar ook op vakgebied en met die opstel en beskikbaarstelling van onderrigmateriaal leiding gee,” het Haasbroek verduidelik.
NHS se skoolsielkundige en berader was deurlopend betrokke om die moraal van leerders en personeel op te bou en daar is selfs vanaf die rekordeksamen tot die einde van 2014 kos aan gr. 12-leerlinge wat ekstra klasse bywoon, voorsien.
Sehlulile het op hulle beurt met NHS en Sanlam se bystand verskeie verbeterings by hul sportgronde aangebring.
Hulle spog vandag met nuwe sitplekke, ‘n speelpark met ‘n klimraam vir gr. R-leerlinge, asook ‘n administratiewe gebou wat onder andere met gordyne, meubels, skilderye en ander muurbehangsels verfraai is.
Johan van der Merwe, oud-hoofseun van NHS en hoof- uitvoerendebeampte van Sanlam Beleggings, het Sanlam se ondersteuning en betrokkenheid by Cyril Clarke in 2015 verseker en gesê daar word reeds beplan aan die bou van twee nuwe klaskamers by Sehlulile.
Dr. Louis Swanepoel, hoof van NHS, het sy dank teenoor al die betrokkenes uitgespreek en gesê dis verblydend om te sien dat dié oud-leerling nie na skool sy verbintenis met die skool verbreek het nie, maar steeds terugploeg om by te dra tot die kwaliteit en momentum van NHS.

