NewsNewsSchools

Numbi-leerlinge blink uit by landsdienskamp

Die vakansie het op ‘n avontuurlustige noot vir lede van Laerskool Numbi se Landsdiensklub begin.

Die klub het vir die eerste keer die Mpumalanga streekskamp by die Kruisrivier Kampterrein bygewoon van 28 Junie tot 1 Julie en leerlinge het dit terdeë geniet.

Daar was 240 graad ses en sewe leerlinge van oral oor Mpumalanga wat die kamp bygewoon het. Hulle is in ses groepe van 40 verdeel en het daarna aan aktiwiteite deelgeneem wat die vier liefdes van Landsdiens uitbeeld – liefde vir die Skepper, jou medemens, die omgewing en liefde vir arbeid.

Ses volwassenes per groep het die leerlinge deurlopend evalueer om die sterkste leiers te identifiseer. Die leerlinge word aan die einde van die kamp gekies om in Desember die nasionale kamp by Thaba Morula buite Brits by te woon.

Laerskool Numbi se personeel en leerlinge was verheug toe twee van die skool se leerlinge, Jacques Lebrun en Allesandro Capazorio onder die uitverkorenes was.

Dit is veral ‘n groot pluimpie vir die skool aangesien hulle eers verlede jaar ‘n Landsdiensklub op die been gebring het.

Landsdiens bestaan al ongeveer ‘n eeu in die land en Mpumalanga het die grootste ledetal van die provinsies met 4 400 lede. Tans is Laerskool Numbi die enigste skool in die Laeveld wat dit aanbied.

Die beweging is ‘n omgewingsgerigte jeugorganisasie wat kinders en jongmense tot verantwoordelike landsburgers lei met aktiwiteite in klubverband asook kampe en hul aanspoor om lewenslank die vier liefdes van Landsdiens uit te leef.

Lede van Laerskool Numbi se Landsdiensklub het sedert die klub se ontstaan al heelwat prettige aktiwiteite meegemaak insluitend om makadamias te gaan pluk op Thika Thika, ‘n staptog na die Forest Fall-watervalle tussen Graskop en Sabie en ‘n aand as kelners by Running Brave Spur. Lees meer hiervan op www.hazyviewherald.co.za.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button