Local newsNewsNewsSchools

Vlammies vier 40 jaar

Vanaand vier personeel, ouers, alumni en vriende van Hoërskool Bergvlam die skool se 40ste verjaarsdag met 'n groot potjiekos-saamtrek.

 

MBOMBELA- Wanneer ‘n skool daarin slaag om vir vier dekades ‘n positiewe bydrae tot die gemeenskap te maak, en vir 40 jaar gebalanseerde leerders die regte wêreld instuur, is dit voorwaar iets om te vier.

Hoërskool Bergvlam vier vanjaar sy 40ste bestaansjaar. Die skool sal vandag hierdie mylpaal met ‘n groot makietie vier. Alle lede van hierdie familie word genooi – ouers, oudleerlinge en -onderwysers, en al die ondersteuners.

Bergvlam is bekend as dié akademiese skool, maar bied leerders iets van alles. Hulle het al ‘n Springbok-breier opgelewer, en buiten “gewone” sportsoorte het hierdie dubbelmedium, multikulture skool ook ‘n internasionale atleet en veral uitnemende skuts. Hulle spog tot met verteenwoordigers in the junior parlement.

Geleenthede om ook deel te neem aan aksies so uiteenlopend soos uitreikprojekte en musiekblyspele, word alles met tradisies verweef om leerlinge ‘n unieke skoolervaring te bied.

Tydens vandag se opskop sal plaaslike sangers van die vermaak verskaf. Langarmdans is ook op die spyskaart, maar die maak van smullekker potjiekos is die hoofplesier van die aand. Verskeie bomas sal opgerig word waar groepe of individue potte aanmekaar kan slaan.

Die basiese bestanddele soos vleis (hoender, bees of lam), rys en groente sal verskaf word, maar bring jou eie speserye om jou pot daardie unieke smaak, eie aan elke kok, te gee. Gaste kan ook hul eie drinkgoed inpak, of dit daar koop.

Diegene wat eerder net wil smul, kan bloot kom ontspan en deur die gasvroue en -here by die bomas getrakteer word.

Natuurlik is kinders van alle ouderdomme welkom. Vir dié tussen twee en nege is daar ‘n oppassersdiens beskikbaar.

Dit kos R50 en die outjies sal van aandete én vermaak voorsien word. Tieners word teen dieselfde koste ook van ‘n ligte ete voorsien en kan rolprente kyk of verfbal speel. Gaste kan mekaar om 15:00, voor die opskop, in ‘n verfbalkompetisie die stryd aansê.

Moenie hierdie lekker opskop misloop nie. Bring jou familie en vriende en kom kuier saam! Verrigtinge skop om 17:00 af.

Navrae: 013-741-1025/6.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button