VIDEO: Wesie pas goed aan by nuwe tuiste
Baba Don, die renostertjie was 'hulp' by 'n voertuig gesoek het, het reeds nuwe maats gemaak en drink selfs al sy melk op.
MBOMBELA – Die renostertjie wat verlede week hoofopskrifte gehaal het nadat hy “hulp” by ‘n voertuig in die Nasionale Krugerwildtuin (NKW) gesoek het, pas uitstekend by sy nuwe huis aan. Mnr. Pierre van der Riet, die bestuurder van die voertuig, het gister by hom gaan kuier.
Lees hier: Rhino baby seeks help from vehicle
Don, vernoem na die veldwagter, mnr. Don English wat tot sy redding gekom het, het Vrydag by Care for Wild Africa per helikopter aangekom nadat veldwagters sy ma se karkas in die veld gekry het. Sy is vermoedelik deur stropers geskiet.
In die helikopter, op pad na Care for Wild, het Don se hartjie gaan staan en die vlieënier moes ‘n noodlanding uitvoer. Veeartspersoneel moes die kalfie weer bybring. Ná drie minute het die bulletjie weer self begin asemhaal en kon hy sy tog na Care for Wild voltooi.
Ná sy aankoms, het personeel by die sentrum gesukkel om hom te voer. Beeldmateriaal wys duidelik hoe die renosterwesie weier om van die melk, wat drie kundiges hom probeer voer het, te drink.
Wonder bo wonder het die diertjie ‘n paar minute later begin drink.
Me. Petronel Niewoudt, stigter van Care for Wild, het aan Laevelder vertel dat Don die volgende dag al ‘n duidelike verbetering getoon het.
Hy het gemaklik geëet en het selfs dadelik met Warren, een van ons ander wesies, maatjies gemaak. Hy het ‘n persoonlikheid van sy eie en neem vinnig die show oor.
Niewoudt het hom Woensdag vir die eerste keer probeer weeg. “Hy was so speels dat hy nie vir lank genoeg op die skaal kon stilstaan nie, maar van dit wat ek kon aflei, lyk dit of hy 93 kilogram weeg.”
Van der Riet was verheug om te sien hoe goed dit met Don gaan.


