
Inwoners van Steiltes sou al opgemerk het dat iets in dié omgewing aan die broei is. Dis duidelik aan lamppale en in pamflette te sien wat uitgedeel word. Vandag oor ‘n week gaan Wyk 17 na die stembus om hul nuwe verteenwoordiger in die munisipale raad te verkies.
Inwoners wat in die gebied geregistreer is om te stem, sal volgende week Woensdag hulle kruisies kan trek om óf vir die ANC se me. Wilna de Beer óf die DA se me. Sanley van der Merwe te kies. Die wyk strek vanaf Piet Retiefstraat tot by Bateleur en sluit Steiltes en Nelsville in. Die stemlokale is by LVCC, Laerskool Bergland en Nelsville se gemeenskapsaal geleë.
Maar wie is hierdie kandidate? Nelspruit Post het met hulle gesels.
Me. Wilna de Beer
Sy was 16 jaar lank lid van die opposisie, die DA, en het vroeër vanjaar by die regerende ANC aangesluit. Sy sê in haar hart is sy ‘n maatskaplike werker en indien sy verkies word, sal sy daarop fokus om seker te maak dat mense die dienste kry waarvoor hulle betaal. Sy voel sy kan dit beter in die ANC vermag.
“Ek dink ek kan ‘n groter bydraende rol tot die gemeenskap speel as ‘n ANC-lid. Mense vertrou my en met die ondersteuning van die regering sal ek meer kan vermag vir alle inwoners. Ek is die skakel tussen die geld en besluitnemers en die publiek.”
Sy weet die uitdagings wat die plaaslike regering in die gesig staat is enorm. Kyk net hoe lyk die paaie.
“Ons moet die beskikbare fondse gebruik om werk te skep vir mense in die area. Ons moet ophou om op die kantlyn te staan en kla. Ons moet begin dink in terme van die feit dat ons almal saam is in hierdie ding.”
Sy sluit af: “Mense moet besef hulle stem vir ‘n kandidaat wat sal help om hulle vorentoe te neem.”
Me. Sanley van der Merwe
Sy is al ‘n geruime tyd ‘n DA-lid en aktivis, en het onlangs besluit om meer betrokke te raak. Dit alles is om die party se visie van vryheid, regverdigheid en geleenthede vir almal te bied. “Jy kan net soveel skree en raas terwyl jy op die kantlyn staan,” sê sy oor haar besluit om tot die politiek toe te tree.
As ‘n finansiële adviseur is Van der Merwe gewoond aan korporatiewe ure. “My tyd is my eie. Ek sal genoeg tyd maak want dit is belangrik vir my en dis my passie, iets wat ek wil doen.”

Sy meen daar is twee verskillende gemeenskappe in dié wyk: in Nelsville is werkloosheid, misdaad en dwelmmisbruik ‘n groot probleem, terwyl inwoners van Steiltes besorg is oor kwessies soos onwettige rommelstrooiing. Sy voel sterk dat werkers vanuit die gemeenskap prioriteit gegee moet word met aanstellings vir munisipale projekte.
“Jy moet kiesers op ‘n persoonlike vlak raak. Jy kan nie net ‘n gesig op ‘n plakaat wees of in die raad dien nie.” Sy sluit af: “Jy kan niks alleen vermag nie – die gemeenskap moet saamstaan.”
• Stemlokale sal op 19 Augustus vanaf 07:00 tot 18:00 oop wees vir kiesers om hul kruisies te trek.

