Akademie-rugbyseuns in finaal
Komatipoort Akademie het week na week, een hoogtepunt na die ander. Verlede week was dit die hoërskool se revue wat vir drie aande deur die leerders met onderskeiding aangebied is en die eisteddfod waaraan baie van dieselfde leerlinge bedags in Mbombela deelgeneem het en uitstekend gevaar het. Die kersie op die koek was toe die …
Komatipoort Akademie het week na week, een hoogtepunt na die ander. Verlede week was dit die hoërskool se revue wat vir drie aande deur die leerders met onderskeiding aangebied is en die eisteddfod waaraan baie van dieselfde leerlinge bedags in Mbombela deelgeneem het en uitstekend gevaar het. Die kersie op die koek was toe die skool se o/15-rugbyspan Saterdag, 15 Augustus op hul tuisveld, die geleentheid van Heilbron ontneem het om na die Beeld-trofee se finaal deur te dring.
Daar heers groot opgewondenheid in die laer, en daar word gees gebou, hard geoefen en voorberei vir die groot dag, Saterdag,
22 Augustus, wanneer die Beeld-trofeefinaal vir kleiner skole, op Christiana plaasvind. Sal die trofee weer vanjaar, soos ‘n paar jaar gelede, hier in Komatipoort sy staanplek kry?
Die finaal is verlede jaar in Komatipoort aangebied, wat ‘n groot eer vir die skool en dorp was, aangesien hul eerste span in lyn gestaan het vir dié prestige-toekenning. Hul opponent het egter met ‘n naelskraap oorwinning met die louere weggestap. Die gebruik is dat die finaal aangebied word by die skool wie se eerste span deurdring tot hier.
Beide spanne het Saterdag rugby van bostaande gehalte gespeel, “ver bo die standaard van o/15 rugby,” het die afrigter, Johan Willers gesê.
“Die Komati-hart het weereens gewys ons kán.” Komatipoort Akademie, sowel as die gemeenskap het bankvas agter die manne gestaan en hulle passievol aangespoor. Volgens Willers is die fokus in ‘n finaal om saam as ‘n eenheid te speel en soos een man te dink. “Die wenspan is die een wat die mees perfekte rugby speel op dié dag.”
Wessel Luies, blitsige linkervleuel van die span, wat eers onlangs rugby begin speel het, iemand om dop te hou in die toekoms, het die eerste drie aangeteken, en Franco Stander, losskakel, het dit beklink met ‘n doelskop.
Joubert Willers, een van die skool se spelers wat ook deelneem vir Suid-Afrika in die Bokkiespan, het deurgeseil vir nog ‘n drie. Stander se skopskoen het hom nie in die steek gelaat nie en nog twee punte op die telbord bygevoeg. Heilbron het ‘n drie aangeteken en verdoel in die eerste helfte en die rustydtelling gebring op 14-7 in Komati se guns. In die tweede helfte is daar behoorlik naels gekou en die spanning het hoog geloop.
Komati se vuurwa, Wessel Luies het nog twee drieë aangeteken, waarvan een deur Siphiwo Tshabalala verdoel is. Joubert Willers het ook ‘n strafskop tussen die pale deurgestuur.
Heilbron het nog drie drieë aangeteken maar kon slegs een verdoel. Die opponente het ook met ‘n strafskop geslaag. Daar was groot verligting en ‘n groot gejuig toe die eindfluitjies met die telbord op 29-22 blaas.
Daar word mos gesê: “Dinamiet word verpak in klein houers.”
Akademie mag klein wees, maar aan krag en talent is daar geen gebrek nie. Die skool bedank die ouers en gemeenskap vir hul ondersteuning.

