Matriekdogter neem rol van Afrika-koningin aan
"Die rok was ek. Hy is propvol seëninge en herinneringe en ek was soveel meer as 'n prinses. Ek was die Kwêla Jamela African Queen,"

MBOMBELA – Erne van Coller se onblusbare liefde en omgee vir haar medewens was nog altyd deel van wie sy is. Maar dit was tydens dié jaar se matriekafskeid waar hierdie Nellie-leerder behoorlik opslae op sosiale media gemaak het en ‘n dieper betekenis aan dié spesiale dag gegee het toe sy haarself gaan tuismaak het by Joyce – n vrou in ‘n sinkhuis wie sy nog nooit van te vore ontmoet het nie.
“Ek en my pa het gery om ‘n plekkie te soek waar ek my matriekafskeid foto’s kon neem. Ek het altyd geweet ek wil iets spesiaals doen, maar het niks voorsaf gereël nie en net gery,” verduidelik sy.
Toe hulle egter by Joyce se huis kom, het iets vir Erné gesê dié is die plek. Hulle het onmiddellik gestop en is met ‘n breë glimlag deur Joyce ontvang.
Joyce is die trotse ouma van sewe en deel, nes Erne, ‘n liefde vir naaldwerk, sou sy later uitvind.
Erne, in ‘n pragtige Vlisco-uitrusting deur Adanna het onmiddelik die harte gesteel en saam met die kinders in die stof gespeel. Vir ‘n oomblik sê Erne sy het vergeet dat sy ‘n paar uur later met dié uitrusting op die rooitapyt sou staan, en sy bieg dat dit wel ‘n behoorlike storie was om die stowwerige handafdrukke af te kry.
Maar sê sy, dít is deel van wie sy is en in die rok kon dit net nie anders nie.
“Die rok was ek. Hy is propvol seëninge en herinneringe en ek was soveel meer as ‘n prinses. Ek was die Kwêla Jamela African Queen,” lag sy.
En al is Erne gaande oor mooi aantrek sê sy dié was maar nog altyd haar ding en dat dit haar wens is om dié twee rasse eendag bymekaar te bring.
Juis daarom het Erne besluit om volgende jaar by Youth With A Mission aan te sluit, ‘n dissipelskap-leerskool (training school) in Muizenberg wat geskoei is op sendingwerk in Afrika. “Afrika-mense leer jou om die eenvoud van die lewe te aanvaar en dat jy te midde van slegte omstandighede steeds gelukkig en suksesvol kan wees”, want, sê Erne, sukses beteken op die ou einde om eendag in die hemel te kom.
Foto’s: Adanna (Berna van Zyl)












