Sappi vier vrouemaand
Dit was 'n ongelooflike oggend en elkeen wat daar was se hart is aangeraak, of dit nou deur die praatjies of Bobby se pragtige stem was.

NGODWANA – Om Vrouemaand behoorlik te vier het die vroue van Sappi verlede Vrydag by die pragtige Ngwodwana Enchanted Lounge vir ‘n inspirerende oggend bymekaargekom.
Voor die groot dag moes elkeen ‘n vorm invul oor hulle nukke en grille, persoonlikhede en karaktereienskappe, wat deelgevorm het van motiveringsspreker, Lynette Beer se sessie. Haar doel is om mense te help om hulle doel in die lewe te ontdek.
Lynette kan enige persoon in net een sessie leer hoe om te leef sodat dit die moeite werd is, hoe om te wees wat jy nog altyd wou wees en hoe om ‘n nuwe perspektief van jou lewe te kry. Sy het omtrent al die vroue laat skaterlag met haar stories, maar ook ‘n verskil in baie se lewens gemaak. Hulle het elkeen voor die sessie ‘n pienk of blou borsspeld gekry en is in twee verskillende groepe opgedeel.
Die blou groep is eerste na die Master Chef-stasie waar bekende sjef, Jonathan Robinson sy kennis gedeel het terwyl die pienk groep saam met Glam Fairy Cassandra gekuier het. Daarna het die vroue van tente geruil en na die talentvolle Bobby van Jaarsveld geluister.
Elke vrou het ook voor die oggend ‘n rugsak ontvang wat hulle moes volmaak met items wat jong meisies regtig nodig het – dit vorm deel van die Big Sister-uitreikprojek. Dit was ‘n ongelooflike oggend en elkeen wat daar was se hart is aangeraak, of dit nou deur die praatjies of Bobby se pragtige stem was.



































