Deelnemers aan Mnr. en Mej. Bergvlamkompetisie het verlede Woensdagaand tydens dié spoggeleentheid op die rooitapyt geskitter
Dit was definitief nie ‘n gewone skoonheidskompetisie nie en deelnemers het baie meer tyd aan liefdadigheid as aan hare en grimering spandeer
Die liefdadigheidsorganisasie wat hierdie jaar gekies is, is Nelspruit Gemeenskapsforum.
Amakhaya Huis is met klere, kos, komberse bederf – alles wat deur die leerders bymekaargemaak en geskenk is. Die huis is ook deur hulle aan die binnekant uitgeverf.
Dit was ‘n baie moeilke keuse en beoordelaars, Manda Gomes, Kerry Ann, Nathi Thwale, Billy van Biljon en Jannie Stander moes koppe krap om uiteindelik die wenners te kies.
Die deelnemers het uitgehaal en gewys en dit was duidelik dat hulle hard gewerk het om seker te maak die aand is perfek. Hulle is vir twee weke deur Gomes afgerig net om seker te maak dat alles seepglad verloop. Chandré Oosthuizen het met die titel, Mej. Fotogenies weggestap en Jason Blockley was die perfekte Mnr. Fotogenies.
Karen Chikwana het bewys dat sy Mej. Persoonlikheid is en saam met haar was Kyle Vorster as Mnr. Persoonlikheid aangewys.
Ongelukkig kan daar net twee wenners wees en dit was Kyle Vorster en Anuschka Erasmus wat die titels van Mnr. en Mej. Bergvlam ingepalm het.
Kort op hulle hakke was Igne Ferreira, Jesse Thorpe, Dominic Caldeira en Sarah French.
