Local newsNewsNewsSchools

Jongman se wêreldkennis besorg hom tweede plek in provinsie

Om op apps rond te speel kan voordelig wees, het 'n gr.11-leerling van Hoërskool Rob Ferreira bewys.

Edrich Kotzee het onlangs ‘n tweede plek in Mpumalanga in hierdie jaar se Wêreldkennis-olimpiade verwerf.

“Ek het ‘n app afgelaai, Today in History, waar ek boodskappe ontvang van daaglikse tendense. Dit is baie insiggewend – boodskappe soos, ‘Watter bekende verjaar vandag?’ en ‘Wat het vandag 10 jaar gelede gebeur?’ is van die SMS’e wat ek gekry het. Aan die einde van die leesstuk kan jy ook aan ‘n vasvrakompetisie deelneem.”

Met die oog op die leierskapsverkiesing wat reeds plaasgevind het, moet kandidate kultuurpunte agter hul naam hê om in aanmerking te kom. Edrich is deel van Robbies se leerderraad vir die termyn 2015/16. “Ek het besluit om die olimpiade ‘n kans te gee. Daar was heelwat oorsese en regeringsvrae, maar ek het goed in die sportafdeling gevaar, omdat ek en my broer baie in sokker belangstel. Dit het my verseker deurgetrek.”

Tydens ‘n natuurwetenskap-klasperiode het sy onderwyser, juf. Cornelia Roodt, die punte uitgelees. “Ek het nogals gestres. Sy het so ‘n glimlag op haar gesig gehad waar ek eers gedink het my punt is baie swak, maar toe kom fluister sy in my oor dat ek 71% behaal het.”

Alhoewel dit dié eerste rugbyspan-stut nie motiveer om sy algemene kennis verder te verbreed nie, het dit die lus in hom wakker gemaak om sy skoolwerk meer ernstig op te neem. “Quit while you are ahead. Ek sal nou meer aandag aan my skoolwerk wil gee. My punte op skool is nie te goed nie, maar dit sal beslis aan die einde van die jaar beter wees.”

Meer as 100 skole neem jaarliks aan die kompetisie deel waarin die leerlinge se nasionale en internasionale kennis van nuusgebeure in die afgelope jaar getoets word.

Altesaam 33 leerlinge van Rob het hieraan deelgeneem, waar net ses ‘n gemiddeld van 60% behaal het. Victor Arnoldi (gr. 8), Lohan Venter (gr. 11), Pieter Broodryk (gr. 11), Gregory Nel (gr. 11) en Anojan Satkunanathan (gr. 12) kon daarmee spog.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button