Gewilde veldwagter tree eersdaags af
Daniel Mabasa is 'n bekende gesig by Hippo Pools in die Krokodilbrug-omgewing van die Nasionale Krugerwildtuin. Hy tree binnekort af en wildtuinliefhebbers het op Facebook hulde aan hom gebring
KROKODILBRUG – SANParke se werknemers is so onlosmaaklik deel van die onvergeetlike ervaring wat die Nasionale Krugerwildtuin (NKW) bied as die Groot Vyf self.
Gereelde besoekers aan die wildtuin sal saamstem dat hulle gunstelinge onder die werknemers het. Iemand wat hulle verkies hulle moet help. Besoek jy Krokodilbrug, is Daniel Mabasa (65) een van hulle. Hy het die afgelope 25 jaar diens gedoen in die gebied van die gewilde Hippo Pools-uitkykpunt en ‘n bekende gesig geword. Hy is ‘n geliefde karakter en besoekers merk hom elke dag op wanneer hy met sy fiets vanaf Krokodilbrug na die uitkykpunt gery het. Hy tree egter binnekort af.
Daniel is oorspronklik van ‘n stat in Malamule, net buite die Shangoni-hek. Hy werk reeds 25 jaar in die wildtuin en was van die begin af by Hippo Pool gestasioneer. Daniel is ‘n veldwagter en fietse is een van die vervoermiddels wat hulle gebruik om die NKW te patrolleer. Hy moet uitkyk vir karkasse, beseerde diere en stropers.
Daniel het al ‘n paar noue ontkomings op die fiets in die bosse gehad. Hy is ondermeer deur ‘n trop buffels omsingel, maar kon danksy sy deeglike kennis van en ervaring in die bos van hulle wegkom. Hy het verskeie kere baie naby ontmoetings met olifante en leeus gehad.
Sy toesighouer, Neels van Wyk, het vertel dat hy besonderse respek vir ‘n swartrenoster het, hoewel hy nog nooit ‘n slegte ervaring met een gehad het nie. Swartrenosters is bekend daarvoor dat hulle nie twee keer dink voor hulle indringers in hul gebiede sal stormloop nie.
Lees ook: Joep Stevens remembers the good times in KNP
“Daniel is ‘n baie trotse mens en toegewyd aan sy werk, met ‘n geweldige voorliefde vir rooivleis,” het Neels bygevoeg. Joep Stevens, algemene bestuurder van strategiese toerismedienste by SANParke, het ‘n foto van Daniel op sy fiets op Facebook geplaas. Verskeie wildtuinliefhebbers het hierop kommentaar gelewer. “‘n Baie spesiale man,” het Alma Zulch laat hoor. “Hy is ‘n baie spesiale mens en het baie goeie kennis van dieregedrag. Ons was bevoorreg genoeg om tyd saam met hom te spandeer. Geniet jou welverdiende rus. Ons sal jou geselskap mis,” het Hannes Meyer gesê.
Daniel sien uit daarna om te gaan ontspan by sy huis in Malamule. Hy sal egter die daaglikse interaksie met toeriste en die diere mis.
