Riool neem oor in bekende woonbuurt
Menslike ontlasting is duidelik sigbaar en alge wat daarin groei is 'n aanduiding dat die drein al vir ‘n lang ruk verstop is
BURGERSFORT – Die stank, riool en afvalstowwe wat uit ‘n drein in Aloeridge-Oos borrel, hou ‘n gesondheidsgevaar vir die inwoners in en volgens hulle val klagtes wat aan die Groter Tubatse Munisipaliteit gerig word, op dowe ore.
Mnr. Louis van der Merwe, ‘n huiseienaar vertel dat die probleem al ‘n paar maande bestaan. “Annalize, my vrou het die munisipaliteit al ‘n paar keer gebel om die probleem te rapporteer. Elke keer word daar gesê hulle sal iemand uitstuur, maar verniet. Die verstopte drein stink geweldig en ek moes al kinders daar wegjaag omdat hulle in die vuil water wou speel. As hierdie kwessie nie binnekort uitgesorteer word nie, kan dit lei na ‘n enorme gesondheidsrisiko,” vertel hy.
Menslike ontlasting is duidelik sigbaar en alge wat daarin groei is ‘n aanduiding dat die drein al vir ‘n lang ruk verstop is.
Mnr. Thabiso Mokoena, Groter Tubatse Munisipaliteit se woordvoerder, vertel dat die streeksmunisipaliteit verantwoordelik is vir die dorp se water-, sanitasie- en dreineerstelsel. Inwoners moet die Sekhukhune Streeksmunisipaliteit oor dié probleem skakel.
Die Sekhukhune Streeksmunisipaliteit se webblad meld dat hulle wetlik verplig is om die volgende dienste effektief en professioneel aan die omliggende gebiede, Tubatse, Makhuduthamaga en Fetekgomo te voorsien: water, sanitasie, elektrisiteit, paaie, gesondheidsdienste, riool- en vullisverwydering, begraafplase, brandweerdienste, plaaslike toerisme, slagpale, openbare vervoer, munisipale beplanning en stormwaterstelsels.
Inwoners wat enige probleme met enige van hierdie dienste ervaar, kan die streeksmunisipaliteit by 013-262-7300/1/2 skakel.


