Duikertjie vind nuwe tuiste na sy gered word
Kuifie is nou spekvet en gesond nadat sy by die dood omgedraai het.
MBOMBELA – ‘n Twee week oue duikertjie, wat vroeër dié week by die dood omgedraai het, het ‘n huis naby haar vorige habitat gekry.
Kuifie, soos die veeartse by Van Wijkstraat Dierehospitaal haar gedoop het, is op die Mara-pad opgetel. Volgens dr. Christo Nortjé, kon sy nie eens self regop staan nie.
Lees soortgelyke stories hier:
Afbeen marmoset ‘n uitdaging vir veeartse
Spesiale eekhorinkie terug op die been
“Toe sy na ons kliniek toe gebring is, was haar temperatuur só laag dat ek eintlik verbaas was dat sy nog gelewe het. Haar glukosevlak, wat tussen vyf en ses moet wees, was maar slegs twee,” het hy gesê.

Kuifie is dadelik op ‘n drup gesit om haar glukosevlak te verhoog en sy is onder ‘n rooilig geplaas om haar ligaamstemperatuur op te stoot. Dr. Lee Baragwanath het die diertjie ook na haar huis geneem waar sy haar elke twee uur gevoer het.
Dit was merkwaardig om te sien hoe Kuifie die volgende dag al rondgespring het en vol lewe was,
het Nortjé vertel. “Ons is optimisties dat sy sal oorleef, alhoewel ons haar steeds vir moontlike infeksie sal moet dophou.”

‘n Familie wat ook op die Mara-pad bly en baie spasie op hul erf het, het vir Kuifie aangeneem.
Die dierehospitaal het diere al
vantevore in hulle sorg geplaas en vertrou hulle ten volle om Kuifie te rehabiliteer.

