CrimeEnvironmentalLocal newsNewsNews

Organisasie vat hande om teen misdaad te veg

HECTORSPRUIT – Ons korrespondent in die Onderberg het die voorreg gehad om met Patrik D’Hollander van Hectorspruit Against Crime te gesels om meer oor hierdie klompie mense uit te vind wat hul vrye tyd opoffer om vir hul gemeenskap ‘n veiliger plek te skep om in te woon. Die organisasie het so min of meer twee …

HECTORSPRUIT – Ons korrespondent in die Onderberg het die voorreg gehad om met Patrik D’Hollander van Hectorspruit Against Crime te gesels om meer oor hierdie klompie mense uit te vind wat hul vrye tyd opoffer om vir hul gemeenskap ‘n veiliger plek te skep om in te woon. Die organisasie het so min of meer twee jaar gelede gedurende ‘n dorpsvergadering ontstaan waar Henk Bezuidenhout, Chris Roos en Patrik D’Hollander genomineer is om aan die stuur van sake te staan. Gedurende Februarie/Maart van jaar het hulle besluit om hande te vat met Concerned Citizens wat ‘n landswye groep is. Patrik D’Hollander en Hannes Nel is tans die plaaslike moderators, met Stephan Bezuidenhout en Stephan Lombard in die proses om moderators te word. Die konsep vir die groep het in Centurion, Pretoria ontstaan, en Concerned Citizens het verskeie takke landswyd en is tans
50 000 lede sterk. Hierdie lede kommunikeer deur middel van die applikasie, Zello PTT wat op enige slimfoon afgelaai kan word. Sodoende werk die selfoon dan as ‘n tweerigtingradio en kommunikeer lede dan met mekaar op die Concerned Citizens-kanaal. Hierdie kanale word deur moderators van regoor die land gemonitor en bystand word so aan enige noodsituasie verleen wat aangemeld word. ‘n Plaaslike reaksiegroep op elke dorp bestaan uit vrywillige burgers, SAPD-lede, ambulansdienste en sekuriteitsmaatskappye wat enige noodsituasie so spoedig en doeltreffend moontlik hanteer.
Die Concerned Citizens is nie ‘n vigilante-groep nie en werk streng binne die raamwerk van die konstitusie en landswette en is daargestel om die SAPD, sekuriteitsmagte of enige ander nooddienste by te staan met hul werk en nie om hulle te vervang nie. In geval van ernstige misdaad wat onmiddellik deurgegee word, het die reaksiespanne ‘n spesifike protokol wat gevolg moet word om die misdaadtoneel en onmiddellike omgewing te beveilig. Moderators op die kanaal verleen deurentyd hulp in terme van advies asook die deurgee van die inligting van die voorval om te verseker dat aktiewe reaksie ontplooi word waar nodig. Hectorspruit Against Crime het tans 160 lede op die Hectorspruit Concerned Citizens-kanaal waarvan 38 lede van die publiek aktief deelneem aan patrollies en reaksie in nood. ‘n Minimum van 60 uur ‘n maand word gewoonlik vir die patrollies ingesit.
Dit sluit nie vergaderings, ekstra diensure in geval van nood of oefening in nie. Moderators doen op skedule nagdiens om 24/7 hulp te kan verleen in nood. Lede poog om op ‘n twee-maandelikse basis te vergader en kommunikeer hoofsaaklik oor die patrollie WhatsApp-groep en die Concerned Citizens-kanaal. Daar is ook ‘n WhatsApp-groep vir die inwoners gestig en hulle word daar of per e-pos op hoogte van enige misdaadverwante gebeurtenisse gehou. Concerned Citizens se sterkte lê in die algemene publiek en hulle versoek daarom almal om aan te sluit. Hoe meer lede, hoe meer oë en ore is daarbuite om inligting in geval van nood deur te gee en sodoende die betrokke reaksielede so gou moontlik ontplooi te kry.
Daar is geen aansluitings- of maandfooie nie en die applikasie op jou slimfoon gebruik die minimum data. Hectorspruit Against Crime gaan binnekort as Hectorspruit Concerned Citizens bekendstaan. Daar word ‘n ernstige beroep op die plaaslike gemeenskap, nooddienste en sekuriteitsmaatskappye gedoen om by hul onderskeie dorpe se Concerned Citizens-kanaal aan te sluit. Soos Patrik D’Hollander tereg sê – deur saam te staan sal ons ‘n verskil maak. Belangstellendes kan hom kontak en hy sal dan prosedure oor hoe om aan te sluit, deurgee. Kontak Patrik by 082-388-0902 of hectoragainstcrime@gmail.com. Sluit gerus aan by die Facebook-blad, Mpumalanga Concerned Citizens, waar die prosedure ook gereeld geplaas word, asook ander inligting aangaande misdaad. Hierdie mense wat hulself so onbaatsugtig aan die gemeenskap beskikbaar stel, verdien voorwaar ‘n klop op die skouer. Corridor Gazette wens julle alle voorspoed toe en vertrou dat die organisasie van krag tot krag sal gaan.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button