Dié jongmanne ken hul storie
Hulle sê kultuurbeoefening bring nes sport, talle voordele en sê dit is veral hulle selfvertroue wat 'n hupstoot gekry het.
MBOMBELA – Vir die meeste leerlinge sorg die woord “mondeling” vir groot konsternasie in die klaskamers. Maar vir Kees-Piet Barnhoorn en Shan-Rich Lemmer van Hoërskool Nelspruit (NHS) is dit byna tweede natuur.
Die twee seuns het onlangs onderskeidelik ‘n tweede en derde plek in die nasionale ronde van die redenaarskompetisie losgepraat, maar dit blyk nou egter of hul meer as net toesprake en ‘n passie vir praat in gemeen het. Hul deel onder andere ook hul liefde vir musiek.
Shan-Rich het reeds op vierjarige ouderdom begin viool speel en leef dié passie steeds uit. Hy is ook ‘n kranige danser wat spog met ‘n paar kampioenskappe in sy sak.
Kees-Piet, wat die trotse naamdraer van sy Nederlandse oupa is, het vanaf gr. 3 tot -6 ook die viool nadergetrek, maar is vandag meer aktief op die krieket- en rugbyveld.
Beide voel egter dat kultuur by skole aan die agterspeen suig en hulle hoop om eendag ‘n balans tussen sport en kultuur te bewerkstellig.
“Kultuuraktiwiteite is oor die algemeen ondergeskik aan sport, maar net soos in sport verg dit goeie afrigting en baie oefening om goed te presteer. Mens kan nie verwag om goed te wees, sonder om te oefen nie,” het die twee verduidelik.
Hulle sê kultuurbeoefening bring nes sport, talle voordele en sê dit is veral hulle selfvertroue wat ‘n hupstoot gekry het.
Beide sê hulle was voorheen teruggetrokke en het nie daarvan gehou om voor mense te praat nie. Vandag is dit egter iets wat hulle bemeester het en hulle spog boonop met ‘n uitgebreide algemene kennis.
Wat hulle prestasies selfs meer besonder maak, is die feit dat nie een van hul redenaarsafrigting ontvang nie. Hulle oefen op hul eie en span gereeld hulle ouers in om te help.
Kees-Piet en Shan-Rich het hulle families vir hulle hulp en insette bedank wat hulle tot die sukses in die kompetisie gedra het.
