
Die gr. 9-leerders van Hoërskool Bergvlam het onlangs geleer dat, soos Moeder Teresa dit gestel het, dit nie saak maak hoeveel ons gee nie maar met hoeveel liefde ons dit doen. Die groep moes as deel van ‘n lewensoriënteringstaak onbaatsugtige diens lewer – natuurlik sonder om enigiets terug te verwag.
Hulle moes nie-winsgewende organisasies kies en navors en toe begin geld insamel. Die leerders het hierdie taak met erns en entoesiasme aangepak en sommer vinnig-vinnig het die rande begin instroom.
Die skenkings is aan die verkose organisasies oorbetaal en hulle waardering was groot. “Hierdie donasie gaan letterlik iemand se lewe verander,” het Sue Wildish, besturende direkteur van die Lunchbox Fund gesê.
“Wat ‘n wonderlike verrassing!” het Marcelle Coertze van The Door of Hope-kinderbediening uitgeroep. “Dit is so ‘n mooi gebaar en ons bedank julle vir julle moeite.”
Past. TJ Mare, besturende direkteur van Nelspruit Gemeenskapsforum was in sy noppies: “Dankie dat julle ambassadeurs is vir die gemeenskap se stemloses en vir julle ondersteuning.”
“Ons kan werklik sê dat elke gr. 9-leerder met ‘n hart vol liefde en omgee rondloop,” het die skool se kommunikasiebeampte, Rista Coetzee opgemerk. “Dit is so lekker om te weet dat ons kon help met die verbetering van talle mense en diere se lewensomstandighede.”
