AnimalsEnvironmentalLocal newsNewsNews

Grondpad gee almal weer kans om wild te besigtig

MARLOTHPARK – Die grondpad langs die Nasionale Krugerwildtuin se draad aan Marlothpark se kant het aan menige inwoners en vakansiegangers groot plesier verskaf. Hulle kon daarlangs ry en al die diere by die rivier uit die gemak van hul voertuie, agter op bakkies, op fietse, in rolstoele en te voet geniet. Helaas is die voorreg so …

MARLOTHPARK – Die grondpad langs die Nasionale Krugerwildtuin se draad aan Marlothpark se kant het aan menige inwoners en vakansiegangers groot plesier verskaf. Hulle kon daarlangs ry en al die diere by die rivier uit die gemak van hul voertuie, agter op bakkies, op fietse, in rolstoele en te voet geniet. Helaas is die voorreg so vyf jaar gelede van almal wat nie viertrekvoertuie het nie, of dapper stappers is nie, ontneem. Die pad het so agteruitgegaan dat dit vir alle voertuie gesluit is en mens nou net daar kon stap. ‘n Brawe en besorgde inwoner, Esther Caripis, het besef dat daar heelwat bejaarde mense met klein karretjies sowel as mense in rolstoele in Marlothpark woon en kom kuier en het besluit om hulp te kry en die pad reg te maak. Sy het op Facebook genoem wat sy beoog en is van alle kante af aangeval deur onder andere mense wat teen die regmaak van die pad was. Hierdie juffie het egter haar man gestaan en alhoewel sy summier van die groep af verwyder is, het die mense van die dorp hulle stadig maar seker by haar begin skaar. Daar was diegene wat selfs bereid was om sand en klip met kruiwaens aan te ry. Flip Minnaar en sy span en Willie van Zyl verdien ‘n groot applous vir al die harde werk wat hulle ingesit het. Die betonpype vir die res van die herstelwerk is reeds by die depot afgelewer en die werk gaan onverpoosd voort. Dan wil Caripis ook een en elke persoon wat hierdie wa saam met haar deur die drif getrek het, uit haar hart uit bedank. Sy sê hulle weet wie hulle is en beklemtoon weereens dat mens alleen niks regkry nie, maar as daar hande gevat word, kan berge letterlik versit word. Haar grootste beloning was foto’s wat sy van Tony Earl af ontvang het waar hy met sy rolstoel op die grondpad ry en net soos die res van die eienaars in Marlothpark die wild van die draad af kan besigtig. Dis mense soos hierdie wat ons salueer – julle harde werk maak dat dié dorp steeds ‘n stukkie hemel op aarde is.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button