Dienkieland Kleuterskool het Vrydag by die Hervormde Kerk se saal hul jaarlikse konsert gehou en die verhoog is met partytjiehoede, prentjies, ballonne en blomme deur Berdiene Pain versier.
Dit was ‘n baie spesiale konsert, want die skooltjie het ook hul 20ste bestaansjaar gevier. Gaste is deur Mark Pain verwelkom en Dewet Prinsloo het die konsert geopen.
Die ouers het behoorlik op die punt van hul stoele in afwagting gesit en die koppe het behoorlik gedraai toe kleuters in hul fraai uitrustings in die deure verskyn het.
Die kinders het hul plekke ingeneem en met hul dansies en liedjies soos “Happy Birthday”, “Okay Pokay”, “Music Man”, “Dapper Muis”, “Teddy Bear” en ‘n groot gunsteling, “Superman” begin. Die ouers is baie deur die oulike optrede vermaak.
Na die konsert is daar op die stoep saamgekuier en ouers kon aan heerlike eetgoed peusel.
