
MBOMBELA – Keandri en Anesli van Wyk is tot die Diamond-dansgroep van die International Fine Arts Association verkies om onder meer aanstaande jaar ‘n toer na Europa te onderneem. Hulle gaan egter eerder op eie bodem bly sodat hulle aan hul skool se revue kan deelneem. Anesli is die enigste gr.7-leerder wat reeds gekies is om in Hoërskool Nelspruit se revue op te tree wanneer sy volgende jaar met haar hoërskoolloopbaan daar begin.
Hulle insluiting by die gesogte toergroep volg nadat hulle onlangs aan die finale ronde van die International Fine Arts Association se kampioenskappe in die Heartfelt-arena in Pretoria deelgeneem en ‘n gemiddeld van 95 persent behaal het.
Keandri (15) het onderskeidelik 95,25 persent en 94 persent in die kontemporêre en balletafdeling behaal. Sy het die semifinale in die balletafdeling gewen. Dié leerder van Hoërskool Nelspruit het tot vlak 10 met ritmiese gimnastiek gevorder en sodoene haar Mpumalanga- en SA kleure verwerf. “Ek was twee jaar oud toe ek met ritmiese gimnastiek begin het en vier met ballet. Daarna het ek ook klopdans- en hip-hoplesse begin neem.”
Die 13-jarige Anesli is tans in Laerskool Nelspruit en het van kleins af in haar sussie se voetspore gevolg. “Ek doen alles wat my sussie doen. Ek het ook met ritmiese gimnastiek begin en daarna die ander style begin dans.”
Die sussies is ook gekies om by die eisteddfod se gala-aand te dans nadat hulle vroeër in die kompetisie deelgeneem en met goud weggestap het.
Waar die meeste dansers net een afrigter het, het die donkerkoppies sommer drie. By Celeste Mouton se dansskool oefen hulle alle style, by Shirley Richansen se Royal Academy of Dance doen hulle ballet en by Sonelca Loxton se Feel the Beat-dansateljee klop- en moderne dans.
Hulle ma, Ilse vertel dat sy as kind gedans het en só het haar dogters ook daarop verlief geraak. “Dans is lekker. Keandri het baie ritme as kleuter gehad en Anesli het altyd haar leotard aangetrek wanneer Keandri gaan deelneem. Sy sal dan haar sussie se danspassies langs die mat namaak.”
Keandri wil graag op die verhoog wees en die wêreld vol toer, terwyl Anesli haar eie dansskool wil oopmaak of ‘n choreograaf word.

















