Met die Numbi-hek in een hoek en ‘n tent en braai opgeslaan langs in die dam in die ander, is NG Witrivier se saal in die Kruger Nasionale Wildtuin omskep. Witrivier Prepremêr het sy jaarlikse konsert verlede Dinsdag gehou en die gehoor is op ‘n uitstappie na die wildtuin geneem.
Daar is vertel dat die konsert help om die kleuters se selfvertroue te bou en dat die onderwysers tydens die voorbereidings selfs harder as die kinders speel. Almal wat ‘n handjie bygesit het om die konsert op die planke te kry is ook tydens die verwelkoming hartlik bedank.

Die gehoor is gevra om styf duim vas te hou dat hulle nie net bokkies tydens hul “besoek” aan die wildtuin sal sien nie, soos baie keer die geval is.
Die kleinstes in die kleuterskool het heel eerste ‘n beurt gekry en as ‘n swetterjoel apies gespeel en gedans. Hulle het so entoesiasties die verhoog betree dat die juffrou net moes keer of hulle het oor die rand geloop.
Daarna het die seekoei in sy dam gaan lê, die krokodil langsaan in die son gebak en ‘n sonbesie naby gaan sit.
‘n Kort video is vertoon waarin ouers kon sien hoe baie hulle kinders van die diereryk weet en toe woerts ‘n groep “rooibokkies” vinnig oor die verhoog.
Daarna het ‘n klomp toeriste met hul verkykers en kameras kom wild kyk en ‘n verskeidenheid diere het hul beurt vir ‘n dansie of liedjie gekry. Kleuters is onder andere soos voëltjies, renosters, muishonde, leeus, apies en sebras aangetrek.
Die eensame krokodil, met sy oulike sponsbek en -stert het ‘n paar apies aan die skaterlag gehad toe hy hulle moes “opvreet”en ‘n skilpad het weer ‘n paar gehoorlede laat lag met sy tiekiedraai-manewales in sy drome.

Renosters en stropers het ook ‘n draai op die verhoog gemaak en ‘n groepie wat teen stropery betoog het dit reggekry om die stropers hul wapens te laat neerlê en in vrede saam met die gediertes te leef.
Familielede en vriende het die konsert, asook die onderliggende boodskap van bewaring, baie geniet en hul aan die vindingryke uitrustings van die kleuters verwonder.
Loer gerus na meer foto’s hier.
