Komati se matrieks
Komatipoort Akademie se reëlingskomitee het Kambaku Gholfklub Donderdag in ‘n klein stukkie Vegas omgetower. Die dekor het getuig van een van die wêreld se gewildste vakansieplekke met rooi en swart vere gerangskik in groot wit en swart dobelstene, silwer kandelare en ‘n tikkie goud wat vir die sprankel gesorg het. Spyskaarte versier met groot speelkaarte het herinner …

Komatipoort Akademie se reëlingskomitee het Kambaku Gholfklub Donderdag in ‘n klein stukkie Vegas omgetower. Die dekor het getuig van een van die wêreld se gewildste vakansieplekke met rooi en swart vere gerangskik in groot wit en swart dobelstene, silwer kandelare en ‘n tikkie goud wat vir die sprankel gesorg het. Spyskaarte versier met groot speelkaarte het herinner aan die polsende stad bekend vir al die vermaaklikheid wat dit bied. Die spyskaart het nie teleurgestel nie en die restaurant het ‘n sesgangmaaltyd uit die boonste rakke voorgesit. Almal was dit eens dat die personeel hier 10 uit 10 punte behaal het. Daar is vrolik en feestelik op eg ‘n Vegas-wyse gebaljaar. Daar word vertel van een gereserveerde matriekseun wat altyd so stil was in die klas, maar wat hier op die dansbaan olie in sy ledemate gehad het en tot almal se vermaak soos ‘n proffesionele danser lyfgeswaai. Almal kon vir oulaas net pret hê voor die boeke nader getrek word vir die heel laaste skof in hul skoolloopbaan. Die skool kan met reg trots wees op ‘n suksesvolle aand. Die belangrikste van alles is dat die gr. 12’s dit geniet het en op hierdie hoogtepunt ‘n laaste keer kon saamkuier. Mag die dans nie hier ophou nie en mag daar vorentoe entoesiasties op die maat van die lewe se musiek gedans word.





